Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Tyd gelede was ’n gesin met twee klein kindertjies op pad huis toe, toe hulle in ’n motorongeluk beland. Die ma is op slag dood. Meteens moes die pa, as wewenaar, die twee klein kleuters alleen grootmaak.

Was daar vrae? Ja. Antwoorde? Min. Trane? Baie en daar is steeds baie. Hoe oorleef ’n mens só tragedie? Net met genade. Deur alles was daar baie gebede vir hierdie gesin – van geliefdes en selfs mense wat hul nog nooit ontmoet het nie. Op ’n dag, het die pa ’n pragtige vrou ontmoet. Sy was self ook ’n weduwee met haar eie seuntjie. 

Op hulle troudag, het die bruidegom in sy toespraak gesê dat hy van sy nuwe vrou se geliefdes gevra het om haar in een woord te beskryf. Daar is mooi woorde gelys. Hy het sy toespraak met sy eie beskrywingswoord vir haar afgesluit, hoop. Ten spyte van die pyn en verlies, wat altyd deel van hulle sal wees, is daar hoop in hul harte vir ’n mooi toekoms saam.

God herstel. Uit die seer het iets mooi gekom. Nie net het drie woelige kleuters nou ’n mamma en pappa wat lief is vir mekaar en vir hulle nie; saam stap hul die toekoms tegemoet met hoop in hulle harte.

Hoekom deel ek dié storie? My wens is dat jy sal terugkyk op Februarie se reeks en onthou dat daar by God altyd hoop is. In Hebreërs 11:1 lees ons: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Ook in Romeine 5:3-5 staan geskryf: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie . . .”

Ons is vir ’n kort rukkie op die aarde. Kom ons geniet die lewe. Kom ons hou op om ’n gebeurtenis as verskoning te gebruik. Staan op, ten spyte van. Speel die bal, ten spyte van hoe dit lê. Moenie net soek vir ’n “mooi einde” nie. Kom ons leef elke dag saam met God wetende dat Hy ons seisoene bepaal. Ook dat Hy in staat is om alles ten goede te laat meewerk vir diegene wat Hom lief het. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U in beheer van my lewe bly – al het ek nie altyd antwoorde op my vrae nie. Help my om in die moeilike tye te volhard, wetende dat dit my geloof versterk en my vul met hoop. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Nota van die skrywer: Baie dankie aan elke leser wat die moeite gedoen het om oor die afgelope maand vir my boodskappe te stuur. Ek wens ek het tyd gehad om elkeen individueel te beantwoord. Ek lees wel deur alles. My wens is dat jy God se liefde en genade tasbaar in 2019 sal ervaar terwyl jy met ’n hart vol hoop leef.

Groete tot ons weer gesels,

Benescke