Deur Benescke Janse van Rensburg

Op 27 Januarie vanjaar het duisende atlete in Port Elizabeth vir die jaarlikse 70.3 Ysterman-kompetisie aangemeld. Tussen hulle was Cornel Botha en David Jones. Wat dié twee atlete se storie uniek maak, is dat David vir Cornel volkome moes vertrou om hom te begelei deur die 1,9km-seeswem, 90km-fietsry en 21,1km-draf wat in die kompetisie voorgelê het. David het weens ’n oorerflike oog-kondisie blind geraak en Cornel was sy gids vir die kompetisie.

Die twee mans, beide rekenaarprogrameerders van Kaapstad, het mekaar in 2018 ontmoet en vir nege maande vir die kompetisie voorberei. Cornel se ervaring, uit die vier 70.3-ystermankompetisies wat hy reeds in die verlede voltooi het, het verseker in die voorbereiding gehelp. Vir die swembeen van die kompetisie is die twee mans met ’n rekbare tou aan die enkels verbind – wat vibreer sodra David te vêr van Cornel af swem, sodat hy sy koers kan aanpas. Met die fietsry het die twee mans ’n tandemfiets gedeel. En vir die hardloop is hulle aan die pols met ’n nie-rekbare tou verbind. Cornel se rol is om regdeur die kompetisie baie te praat. Buiten dat hy vir David moet voorberei op wat voorlê en waarsku van ongelyke grond, moet hy ook die horlosie dophou om te verseker dat hulle nie te vinnig of stadig vorder nie.

In my onderhoud met die mans, wou ek weet hoekom Cornel besluit het op dié onselfsugtige daad. Hy het geantwoord: “Ek hou daarvan om mense te help om hul doelwitte in die lewe te bereik. Hierdie is een só geleentheid.” Dit is nie die eerste keer dat Cornel dit gedoen het nie. In die verlede het hy saam met sy gestremde seun, Neil, die Kaapstad Fietstoer (110km) op ’n tandem-fiets voltooi as ’n bewys aan sy seun dat niks onmoontlik is nie.

Ons as gelowiges het ook ’n Gids wat ons elke dag wil lei. Sy naam is die Heilige Gees. Hy wil ons voorberei op ongelyke paaie wat voorlê en terugtrek sodra ons koers verloor. In Johannes 14:16,26 het Jesus sy dissipels voorberei op die koms van die Heilige Gees: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. . .wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” Ook in In Titus 3:6 lees ons: “God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser.” En in Romeine 8:26 staan geskryf: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.”

Net soos Cornel vir David deur die kompetisie moes begelei, wil die Heilige Gees as daagliks deur ons dag begelei. Hy is ons Trooster en Leidsman. Hy help ons ook bid wanneer ons nie meer woorde het nie. Ken jy sy stem? Indien nie, is dit nie dalk tyd om God te vra om jou opnuut met sy Gees te vul sodat ons gehoorsaam kan wees as Hy ons waarsku of terugtrek as ons die regte koers verloor het? Die Heilige Gees is immers die grootste geskenk wat Jesus na sy Hemelvaart vir ons nagelaat het! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my lei deur u Heilige Gees. Help my asseblief om U stem duideliker te hoor – en ook vinniger te reageer as U my in ’n rigting lei. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het.