Deur Benescke Janse van Rensburg

Met ’n gemiddeld van 0,76 mm-reënval per jaar, word die Atacama-woestyn in Chili, Suid-Amerika, as een van die droogste plekke ter wêreld gesien. Sommige areas in die woestyn het vir 400 jaar lank geen reën gekry nie. Vir NASA is dié droogtetoestande ideaal om navorsing te doen vir sendingreise na Mars.

In ons eie lewens ervaar ons egter ook soms droë seisoene – net soos in die natuur. Ons bid, vas en smeek God vir ’n deurbraak, maar dit voel asof die sluise van die hemel toe bly. In dié seisoene is dit nodig om onsself te herinner aan wat God oor droë tye sê:

In Jesaja 58:11 lees ons: “Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien.” IHebreërs 13:5b beloof God: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” En in Jesaja 43:19 sê God: “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”

Is dit maklik om positief te bly in woestyntye in ons lewens? Nee. Tog bly dit vir my fassinerend hoe vinnig die woestynlandskap in die Atacama-woestyn kan verander sodra daar ’n paar druppels reën geval het. Een oomblik is dit nog woestynagtig en die volgende is daar ’n plaat blomme wat voor jou lê.

God kan dieselfde in ons lewens kom doen. Hy les ons dors en beloof om ons te dra en in ons behoeftes te voorsien. Hy is ook in staat om ’n pad in die woestyn te maak en riviere in droë rivierbeddings te laat ontspring. Kom ons vertrou Hom daarvoor. Kort voor lank lê daar dalk ook ’n plaat blomme waar jy eens ’n woestyn ervaar het. Sterkte!

Vader God, baie dankie dat U my vashou in dor seisoene in my lewe. Help my asseblief om my oë op U te hou, wetend dat U op die regte tyd sal antwoord. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het.