Deur Benescke Janse van Rensburg

Verlede week het ek ’n storie van ’n 16-jarige seun, Dewald van der Merwe van Stilbaai geskryf. Hy het sy eie lewe gewaag toe hy met sy lyfbord die see-in is om een van die twee bejaarde sendelinge te red nadat hulle in ’n gevaarlike seestroom beland het. Na afloop van die dagstukkie, het ’n leser wat Dewald en sy gesin goed ken, my laat weet hoe groot hierdie wonderwerk werklik was.

Dewald is met ’n immuniteitsiekte gebore. Reeds van ’n jong ouderdom af, is hy in en uit die hospitaal. Tans is dokters nog besig met toetse om te probeer vasstel wat die oorsprong van sy siekte is. Hy kry elke 3 weke infusie van 4-5 ure lank. Weens sy siekte is Dewald redelik skraal en kleiner as sy portuurgroep. Vir hom, om sy lewe te waag en ’n volwasse vrou uit die see te kry, was dus nie net ’n teken van absolute waagmoed nie, maar ook dat God by hom was en hom gedra het.

Nie een ons het nog nooit terugslae of uitdagings in ons lewens beleef nie. Sommige terugslae maak ons egter skaam – ’n egskeiding, ’n buite-egtelike verhouding wat jou huwelik gekos het, ’n finansiële verknorsing of bankrotskap, aflegging by die werk, ’n verslawing, ’n gebroke verhouding met jou kinders. En sommige uitdagings verg baie van ons om positief te bly – ’n gestremdheid, as dit moeilik gaan met jou kind met spesiale behoeftes of dalk ’n siekte soos Dewald sin wat intense behandeling benodig.

Ek is oortuig daarvan dat die vyand se strategie is om ons te hou op ’n plek waar ons skaam voel oor terugslae of wanhopig oor uitdagings. Hoekom? Omdat hy ons só probeer keer om God se genesing, vergifnis en genade in ons lewens beleef – of indien ons dit wel beleef het, probeer hy keer dat ons daaroor getuig. In Openbaring 12:11 lees ons:  “En hulle het hom (die vyand) oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis . . .” En vir jou wat sukkel om te glo dat God jou werklik kan vergewe as jy berou het vir jou verlede, in Psalm 103:12: So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” Sodra ons God se genade, genesing en vergifnis in ons lewens beleef, vul dit ons met ’n gevoel van vryheid. Dit versterk ons geloof en dit gee ons ’n getuienis van God se goedheid.

Waarvan of waaruit het God jou in jou lewe gered? Kan ek jou aanmoedig om jou getuienis te deel wanneer iemand jou pad kruis wat nodig het om dit te hoor? Ek weet mens praat nie maklik oor jou  eie swakheid nie, maar dit kan iemand anders se lewe red. En as dit steeds elke dag moeilik is om op te staan weens jou kind se spesiale behoeftes, jou eie gestremdheid of siekte, mag ek jou herinner dat God jou ook kan en wil gebruik as sy instrument (soos met Dewald). Al wat ons soms benodig is ’n tikkie waagmoed en ’n hart vol geloof in die Een wat nooit verander nie! Sterkte.

Vader God, baie dankie vir U genade en vergifnis en dat U ons in vryheid wil laat leef. Help my asseblief om nie langer toe te laat dat die vyand my verlede gebruik om my skaam te laat voel nie, maar om dit eerder om te draai as ’n getuienis van u goedheid. Help my om sterk te staan in die storm elke dag. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het.