Deur Benescke Janse van Rensburg

Vir 10 jaar lank was Katie Renshaw van Brittanje in ’n rolstoel vasgekluister. Met haar serebrale verlamming het dit gedink dat dít heel moontlik haar lot in die lewe sou wees. Drie jaar gelede het sy egter ’n 9-uur-lange operasie ondergaan om haar voete en bene reguit te maak. Hierna het intense fisioterapie sessies gevolg. Groot was almal se verbasing toe sy verlede jaar haar eerste tree gee. Vroeër die week is Katie se eie verwagtings nog ’n stappie verder oortref toe sy genooi is om saam met van die wêreld se topmodelle op die loopplank te stap by die Londen Modeweek!

God spesialiseer daarin om die onmoontlike in ons lewens moontlik te maak. Ons sien dit regdeur die Bybel. Abraham was 100 jaar oud toe hy pa geword het. Josef was een dag ’n gevangene; die volgende dag was hy onderkoning van Egipte. Gideon was die jongste kind uit ’n “swak” familie, maar God het hom gekies om Rigter van Israel te wees. En Ester, ’n weeskind, is as koningin van die land gekies, waarna God haar gebruik het om die Jode teen uitwissing te red.

Watter situasie in jou lewe staan soos ’n reus voor jou? Benodig jy restourasie in jou huwelik of dalk ’n gebroke verhouding met ’n familielid of vriend? Bid jy vir verlossing van ’n verslawing? Benodig jy liggaamlike genesing? Of smag jy dalk daarna om ’n huweliksmaat te ontmoet of self swanger te word?

In Jeremia 32:17 lees ons: Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?” In Lukas 18:27 sê Jesus: “Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik.” In Efesiërs 3:20-21 staan geskryf: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe . . .”

Katie het gedroom daarvan om self te stap. Hierdie droom is totaal oortref toe sy nie net self kan stap nie, maar genooi word om as model op een van die gewildste loopplanke ter wêreld te kon stap! Wanneer God ingryp in ons lewens, werk dit baiekeer op dieselfde prinsiep. Hy gryp in en demonstreer aan ons sy grootheid en liefde – vêr meer as wat ons kan bid of dink. Mag ek jou aanmoedig om Hom te bly vertrou – al raak dit ook hoe moeilik! Sterkte.

Vader God, ek prys U vandag vir U grootheid en goedheid. Help my asseblief om U nie langer met my ongeloof te beperk op wat U in my lewe kan doen nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het.