Deur Benescke Janse van Rensburg

Die 15-jarige Koben Hofmeyr van Louis Trichard was ’n top sportman. Nie net op die atletiekbaan nie, maar hy het ook as kaptein van die 0/16 rugbyspan vir sy skool uitgedraf. Van die buitekant af het alles perfek gelyk. Binne hom was daar egter frustrasie weens die verbrokkeling in sy verhouding met sy huismense. 

Koben se pa, Trompie, was as jongman ’n uitstekende atleet. Omdat hy sy seun se potensiaal raakgesien het, wou hy hom help om die beste moontlik te presteer. Vir Koben het dit gevoel asof sy pa hom onnodig druk. Die twee was konstant aan die baklei. Die konflik het mettertyd na sy verhoudings met sy ander huismense ook oorgespoel. Kort voor lank het Koben begin om met drank te eksperimenteer om van alles te ontvlug.

In Mei verlede jaar het Koben weer as kaptein uitgedraf toe hulle ’n rugbywedstryd teen Hoërskool Warmbad speel. In die tweede helfte van die wedstryd het Koben ’n harde hou teen sy nek gehad. Dit was gebreek. Alhoewel hy aanvanklik sy bene kon beweeg, het die gevoel al minder geword. Ure later in die hospitaal was hy heeltemal verlam.

Vir drie weke lank was Koben totaal verlam. ’n Lang, moeisame pad het vir Koben voorgelê. Vir drie weke was hy totaal verlam. Vier maande se hospitalisasie en rehabilitasie het voorgelê waartydens hy baie gewig verloor het en van vooraf beheer oor sy spiere moes herwin. In Januarie vanjaar, kort nadat hy vir die eerste keer uit sy rolstoel kon opstaan, het ek met hom gesels. Ek wou weet wat hierdie moeilike paar maande vir hom beteken het. Hy het geantwoord: “2018 was my slegste, maar ook my beste jaar. Nie net het ek vir God ontdek en regtig tot bekering gekom nie. My verhouding met my pa – en ook my huismense – is volkome herstel. Inteendeel, dit is beter as ooit. Waar ek en my pa voorheen aanhoudend baklei het, is ons nou soos beste vriende. Ons lag en maak grappe. My pa het my ongelooflik ondersteun en gehelp in die afgelope paar maande. Ek is ontsettend lief vir hom!”

Seerkry gee ons perspektief. Dit stroop ons van alles wat verkeerd is in ons lewens en trek ons nader na God. Job het dit beleef. Hy het alles verloor. Nadat hy getrou bevind is, het God vir hom dubbeld teruggegee wat hy verloor het. In Sagaria 9:12 sê God: “Kom terug na die vestingstad toe, gevangenes wat nou hoop het! Ek verseker jou vandag: Ek gee jou twee maal soveel as wat jy gehad het.” Ook in Jeremia 30:17 lees ons God se woorde: “Ja, Ek sal nuwe vel laat groei oor julle seerplekke en Ek sal julle gesond maak waar julle seergekry het.”

Het jy ’n groot verlies in jou lewe ervaar? Is dit moeilik om te glo dat iets goed hieruit sal kan kom? Mag ek jou aanmoedig om jou oë op God te hou. Hy kan gebroke verhoudings tussen familielede herstel. Hy kan jou finansies wat jy verloor het, dubbeld vir jou teruggee. Hy kan sorg vir bevordering waar jy deur kwaadwillige kollegas in die verlede oorgesien is. Mag ons ook soos Job die toets deurstaan terwyl ons aanhou om ons oë op Hom te hou. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U nooit onkant betrap word deur enigiets wat in my lewe gebeur nie. Help my om my oë in moeilike tye op U te hou – veral as ek nie verstaan hoekom dinge gebeur nie – wetende dat U in staat is om dit ten goede te laat meewerk. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het.