Deur Benescke Janse van Rensburg

Die afgelope Sondagoggend rondom 10:30 het Yolanda Oosthuizen (53) en Anne Tait (67), twee sendelinge van Skotland wat in Suid-Afrika kuier, by Lappiesbaai by Stilbaai gaan swem. Binne minute het hulle in ’n sleurstroom beland wat hul al dieper die see-ingetrek het. Toe Yolanda sien dat Anne nie meer haar kop bó die water kan hou nie, het sy op haar hardste om hulp begin roep.

’n Entjie weg het die 12-jarige Mialize Wessels, Yolanda se hulpkreet gehoor. Sy het dadelik vir haar ma gesê dat hulle die vroue moet gaan help. Haar ma was nog besig om die Nasionale Seereddingsinstituut te bel, toe  die 16-jarige, Dewald van der Merwe wat saam met hulle daar was, sy lyfplank opgetel het en die see ingehardloop het om die vroue te gaan red.

Omdat Yolanda vir Anne verloor het, wat al dieper die see ingespoel is, het sy net aanhoudend bly bid, “Jesus, Jesus, help asseblief vir Anne! Red ons hieruit.” Dewald het Anne net betyds bereik. Met haar laaste krag het sy aan sy plank vasgehou, terwyl hy geswem het vir al wat hy werd was om haar by die strand te kry. Nog ’n branderplankryer op die toneel het vir Yolanda ook tot op die strand gehelp.

Dokters het die vroue op die strand bygestaan en Anne na die hospitaal in Mosselbaai geneem weens die water op haar longe. In reaksie op hul belewenis, sê Yolanda: “Ek het al Stilbaai se helde op een dag ontmoet. Die seun was ’n engel op ’n lyfplank en hy en die ander is deur die Here gestuur. Dit is ’n wonderwerk dat ons oorleef het en alle eer gaan aan die Here.”

Soms ervaar ons ook situasies of seisoene in ons lewens waartydens dit voel asof ons, soos die twee vroue, in ’n “sleurstroom” vassit. Hoe harder ons spartel, hoe moeër en meer moedeloos raak ons. En soms, in hierdie stryd, beleef ons ook daardie oomblik, net soos Anne, waartydens ons net nie meer ons kop bó die water kan hou nie.

In hierdie oomblikke, is dit belangrik om weer te blaai na Psalm 50:15 waar God sê: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.” Ook in Psalm 46:2-4 lees ons: “God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid.” En in Psalm 37:39 staan geskryf:  “ . . . die regverdiges word deur die Here gered. Hy is hulle toevlug in tyd van nood.”

Het God Yolanda en Anne se smeekgebede in die water gehoor? Verseker. Het hy Mialize en Dewald en die ander branderplankryer geposisioneer om die noodkrete te hoor en daarop te reageer? Ek is oortuig daarvan.

Mag jy, wat voel of jy in die “sleurstroom” van die lewe vasgevang is en sukkel om jou kop bó die water te hou, opnuut vandag na God uitroep. Hy sluimer en slaap nooit nie en Hy kan ook mense oor jou pad stuur om jou uit die “waters” te red. En wanneer ons noodkrete om ons hoor, mag ons soos die 16-jarige Dewald ons plank optel en die water inhardloop (al kos dit iets van ons) om daardie persone in nood te help. Só demonstreer ons prakties God se liefde aan hulle. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my regop hou wanneer ek begin moed verloor. Versterk my asseblief vandag deur u Heilige Gees. Help my ook om my oë oop te hou waar ek diegene rondom my kan ondersteun wat voel asof hulle nie meer die druk van die lewe kan hanteer nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Luister na ’n kort uittreksel uit die onderhoud met Yolanda hier (onder potgooie): www.benescke.co.za 
  • Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het.