Deur Benescke Janse van Rensburg

Drie nuusgebeure oor die afgelope paar dae het my geskok en diep laat dink. . .

Die voormalige Springbokrugbyspeler, Gysie Pienaar se 39-jarige dogter, René O’Ehley is Vrydag in ’n motorbotsing oorlede. Buiten vir haar man, laat sy ook haar 12-jarige dogter en 8-jarige seun agter. Verlede week het die 3-jarige Nina de Villiers, een van ’n tweeling van Durbanville, in ’n fratsongeluk op haar fietsie se hefboom geval. Nadat dit ’n gaatjie in haar hartjie gemaak het, is sy ure later in die hospitaal oorlede. En in Durban is ’n pasgebore baba uit ’n stormwaterpyp gered. Die ma het die dogtertjie in die pyp afgespoel om van haar ontslae te raak. Die kind het wonderbaarlik oorleef.

Hoe maak ’n mens sin uit hierdie gebeure? Hoe verwerk ’n mens daardie seer wat jou binneste uitmekaar skeur? Of verwerping van die een wat veronderstel was om jou die liefste in die wêreld te hê en jou te beskerm, maar haar rug op jou gekeer het?

Vir meer as 10 jaar lank, skryf ek al stories van mense. Getuienisse oor God se goedheid. Een ding wat ek met volle oortuiging kan sê, is dat God werklik in staat is om uit die seerste seer iets mooi na vore te bring. Verstaan ’n mens altyd waarom sekere dinge jou pad kruis? Nee. Is dit maklik om die seer te verwerk? Gewoonlik nie. Tog, ons aanbid ’n God wat in staat is om die onmoontlike moontlik te maak en die toekoms goed te laat uitdraai.

In Jesaja 55:8-9 sê God: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie . . . soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” In 1 Petrus 5:7 lees ons: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” En in Romeine 8:28 lees ons: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom lief het . . .”

Wat is die ding wat jou binneste uitmekaar skeur? Eensaamheid? Die verlies van ’n geliefde? ’n Egskeiding? Verwerping van iemand wat veronderstel was om jou lief te hê? ’n Finansiële verlies? Mag ek jou aanmoedig om in stede daarvan om antwoorde te probeer vind op die hordes vrae wat jy het, eerder doelbewus te kies om jou geloof in God te plaas? Mag ons Hom loof en prys in ons storms omdat ons weet dat Hy ons laste dra en in staat is om alles ten goede kan laat meewerk vir die wat Hom liefhet. Dit is wie Hy is en wat Hy kan doen. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek in U kan rus. Neem asseblief my seer in U hande en versterk my deur u Heilige Gees om my geloof in U te plaas met die wete dat U alles ten goed kan laat uitwerk. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het.