Deur Benescke Janse van Rensburg

Verlede jaar het ek die storie geskryf van Lee-Ann Abrahams, ’n petroljoggie van Bellville. Al was sy pas terug van kraamverlof, het sy met tye tot 16 uur skofte op ’n dag gewerk om die pot aan die kook te hou. Haar blymoedige menswees het almal om haar geïnspireer. Te danke aan Spar Wes-Kaap en ook die Dis-chem Stigting, kon ons haar met kruideniersware en babaprodukte gaan verras wat verseker die las aansienlik verlig het (luister na die volle storie by die skakel onderaan).

Ná ons oorhandiging, het Lee-Ann in ’n stadium geweldige teenstand van sekere kollegas ervaar. “Al was dit vir my baie moeilik,” vertel Lee-Ann, “het ek gekies om goedgesind teenoor hulle te bly. Ek het aanhou glo en vertrou en verklaar dat God voor my uitgaan en dat Hy my sal beskerm.”

Op ’n dag wat Lee-Ann dit die minste verwag het, het ’n motor met ’n man en vrou by die petrolstasie gestop. Die paartjie binne die motor besit ’n skoonmaakbesigheid in Kaapstad. Hulle het ’n bestuurder benodig wat na hulle persele in die middestad van Kaapstad kon omsien. Omdat hulle van Lee-Ann gehou het, het hulle net daar en dan vir haar ’n aanbod gemaak. Binne ’n dag is Lee-Ann van petroljoggie tot bestuurder oor 17 persele, met spanne wat onder haar werk, bevorder. Al wat Lee-Ann kan sê is: “Dít is wat ons God kan doen!”

Wat is jou reaksie wanneer jy teenstand ervaar? Dalk is dit van ’n kollega, ’n huweliksmaat, ’n vriendin, ’n skoonma of selfs van jou tienerkind? Vergeld jy kwaad met kwaad of kies jy om goeddesind te bly? In Romeine 12:20 lees ons: “‘As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.’ Moenie jou deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” Ook in Psalm 103 lees ons dat God vir Josef van gevangene tot onderkoning van Egipte bevorder het, omdat hy die karaktertoets geslaag het.

Is dit maklik om goedgesind te bly as mense jou seermaak? Verseker nie. Sien God dit raak as jy aanhou kies om Hom te eer en reg op te tree? Ek is oortuig daarvan. Ook kan ek nie anders as om te glo dat dit Hy was wat daardie paartjie na daardie petrolstasie gestuur het om by Lee-Ann petrol in te gooi. Sy is getoets en getrou bevind en God het haar geëer. Mag ons leer uit haar storie en deurlopend kies om ons vyande aan God oor te gee terwyl ons goedgesind teenoor hulle bly (al is dit ook hoe moeilik). God gaan voor ons uit en Hy beskerm ons. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U voor my uitgaan en my beskerm. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om goed te bly teenoor mense wat die lewe vir my moeilik maak – juis omdat ek glo dat U namens my die situasie kan uitwerk. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het.

o    Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en