Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Paar dae gelede moes ek die knop in my keel wegsluk terwyl ek na Cathleen Valentine, ’n enkelma in die Kaapse Skiereiland, se getuienis luister oor God se voorsiening. Hier is ’n uittreksel uit die getuienis (luister na die volle storie onderaan).

Met die aanvang van die skooljaar in Januarie het Cathleen met ’n probleem gesit. Haar kinders het plek in ’n nuwe skool gehad, maar sy het nie geld vir skoolklere en skryfbehoeftes gehad nie. “Dit het my erg depressief gelaat,” vertel sy. Terwyl sy haar hart elke dag voor God uitgestort het, was haar kinders steeds vir die eerste twee dae by die huis. Op die derde oggend van skool, het Cathleen weer opgestaan, haar gesig gewas en in haar kinders se kamer gaan sit. Hulle het steeds geslaap.

Met trane wat oor haar wange vloei, het Cathleen in geloof tot God gebid. Sy het Hom vir ’n deurbraak gesmeek en gevra dat Hy haar moes wys wat om te doen. Sy was gereed om op straat vir geld te gaan bedel. Haar kinders moes skool toe!

Nog in gebed, het Cathleen skielik ’n vrou se gesig voor haar gesien. Hulle het mekaar by ’n kerk ontmoet wat Cathleen besoek het, maar mekaar nie regtig geken nie. Cathleen het ervaar dat sy haar moes bel. Sy het. Die vrou het gesê dat sy self nie kon help nie, maar dat sy sou uitvind of daar iemand is wat wel kon help. Met ’n swaar hart het Cathleen die foon neergesit en weer gebid: “Vader, U is nie ’n onregverdige God nie. U is groot en almagtig. U is die soewereine, Heilige God. Niks is vir U onmoontlik nie. Vanoggend vra ek U dat my kinders Maandag kan skool toe gaan. Ek weet nie hoe nie, maar ek vertrou U daarvoor.”

’n Paar minute later het Cathleen se foon weer gelui. Die keer moes sy hart sluk om haar trane weg te kry voordat sy antwoord. Dit was ’n onbekende vrou wat gesê het dat sy van Cathleen se uitdaging gehoor het. Sy het haar gevra om haar op ’n sekere plek te kry sodat sy kon kyk wat sy vir haar kon doen.

Nooit sou Cathleen kon raai dat dié weldoener reguit PEP stores toe sou ry waar sy vir haar kinders splinternuwe klere kon koop. “Sy het my kinders van kop tot tone uitgerus,” vertel Cathleen totaal oorstelp van vreugde en in trane. “Dít is wat hierdie Heilige groot God vir ons kan doen! Hy het ons meer gegee as wat ek gedink het moontlik was! Alle eer aan Hom!”

In 2 Kronieke 16:9 lees ons: Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” En in Spreuke 3: 27 staan geskryf: “Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie.”

Het God vir Cathleen gesien waar sy langs haar slapende kinders gesit het met trane? Het Hy die vrou se hart aangeraak wat gery het om Cathleen te gaan help? Ek is oortuig daarvan. Kom ons hou ons oë op hierdie groot, soewereine God en kom ons wees gehoorsaam as Hy ons deur sy Heilige Gees lei om sy liefde prakties aan mense in nood te demonstreer! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my Voorsiener is. Help my om in moeilike tye my oë op U te hou, maar ook my oë oop te hou vir mense wat swaarkry sodat ek hulle kan help. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.