Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Paar weke gelede het ek ’n baie snaakse dink oorgekom. Net na 19:00 die aand het my 5-jarige dogtertjie by die huis van ’n bankie afgeval. Haar arm het begin swel en ons het besef dat ons haar moes dokter toe neem. Terwyl my man na ons jongste omsien, het ek en my 5-jarige na ’n privaathospitaal in ons omgewing vertrek.

Die ongevallesaal was vol en ons wagtyd het begin. Deur die loop van die aand het ek gehoor dat daar net een dokter aan diens was. Dit het die lang wagtyd verduidelik. Rondom 23:00 daardie aand is ons eindelik geroep. Met ’n diepe dankbaarheid en ons gewag dat die dokter na ons kom. Niks kon my egter voorberei op die oomblik toe hy die gordyntjie ooptrek nie! Daar was hy, reg voor my, met beide sy voortande uit!

Alhoewel ek nie iemand is wat van nature jou gaan oordeel nie, kon ek nie help toe die enigste vraag wat deur my kop gaan (miskien juis weens die bykans 4 ure lank se wag): “Waar is jou tande? Hoe op dees aarde moet ek enigiets glo wat jy vir my oor my kind se arm sê?!” Die dokter het voortgegaan met sy werk asof niks fout is nie en omdat dit gelyk en geklink het asof hy weet wat hy doen het ek maar stilgebly.

Net na middernag, met ’n gips aan my dogtertjie se arm, kon ek nie langer my nuuskierigheid bedwing nie. Ek het na die dokter gekyk en gesê: “En die tande, dokter?” Die suster, wat op pad uit die kamer was, het in haar spore gevries en omgeswaai. Duidelik was sy uit die veld geslaan dat ek die vraag durf vra. Nog snaakser was toe sy terugstap om die dokter se antwoord op die vraag te hoor! (Sy was seker net so nuuskierig soos ek)

Die dokter het verduidelik dat hy ’n tyd vantevore in ’n ernstige motorongeluk was. Sy voortande is in die ongeluk uit. Alhoewel hy vir ’n inplantaat gegaan het, het dit misluk. Sy mond moes nou eers genees voordat hy weer kon teruggaan.

Dié insident het my laat dink aan hoe maklik ons mense op grond van hul uiterlike of optrede beoordeel – en selfs veroordeel. Ons spring maklik op ons agterpote oor die bestuurder wat soos ’n maniak ry, die stadige kassier, die knorrige kollega, die slordige ma of dalk die dokter sonder sy voortande. Ons oordeel en veroordeel mense voordat ons hul kant van die storie gehoor het. In Matteus 7:1-3 lees ons egter: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. ‘Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?’”

Mag ons doelbewus volgende keer eerder waag om die ongemaklike vrae te vra of om genade te bewys. Sodra ons die volle storie ken, gaan ons dalk heeltemal anders optree. Ons weet immers nooit wat in iemand anders se lewe aangaan totdat ons nie in hul skoene gestap het nie. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my nie oordeel of veroordeel nie, maar altyd aan my ’n tweede kans gee. Help my om dieselfde met die mense om my te doen. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het.