Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Tyd gelede was ek op ’n dag druk besig. ’n Sperdatum vir ’n groot projek was ophande en ek moes dit vinnig afhandel. Te midde hiervan, stap ’n kollega van my verby die lessenaar waar ek sit en werk met ’n 80-jarige oo. Hy het besoek by die radiostasie afgelê waar ek werk. My kollega het besluit om hom met die verbygaan aan my voor te stel.

Aanvanklik was ek hoflik. Ek het na die stories geluister en saamgesels. Oom Sakkie het egter aangehou gesels en gesels en gesels. Aan my binneste het ek kriewelrig begin raak. Hoe om dees aarde sou ek oom Sakkie kon stop sonder om onhoflik te begin lyk? Die gesprek het aangehou en aangehou. Teen die tye het ek al gebid dat iemand moet verbykom dat ek met uit die gesprek kon loskry. Net toe sê oom Sakkie iets wat die wind uit my seile geneem het!

“Ek en my vrou was vir 40 jaar lank getroud. Ons was geweldig lief vir mekaar. Kort ná ons 40ste huweliksherdenking, is sy met kanker gediagnoseer. Enkele weke later het sy in my arms gesterf.” Die trane het skielik vlak in oom Sakkie se oë gesit. Ek het besef dat hy haar verskriklik mis. “Haar grootste geskenk aan my was tyd. Al het sy ook ’n hoë posisie beklee in die maatskappy waarvoor sy gewerk het, kon ek haar enige tyd van die dag bel. Sy het my nooit laat voel asof ek oorbodig of lastig is nie. Wanneer ek by haar was, was sy altyd ten volle teenwoordig.” Sjoe!

Tyd en teenwoordigheid. Is dít wat jy vir jou geliefdes gee? Of is jy met jou een oog besig om deur sosiale media te kyk of op te vang op die jongste sportnuus terwyl jou geliefde sy of haar hart met jou deel? Ook, hoe lyk jou tyd en teenwoordigheid saam met God? Is dit vir jou ’n takie om af te handel of is jy gefokus wanneer jy met Hom in gebed praat?

In Jakobus 4:8 lees ons: Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” Ook in Hebreërs 11:6 lees ons: “Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” En dan rondom optrede teenoor jou geliefdes, lees ons in Romeine 12:10b: “Julle moet eerste wees om ander mense te respekteer” (Die Bybel vir Almal-hersiening).

Tyd en teenwoordigheid. Dít is die grootste geskenk wat jy aan iemand kan gee. As ’n oomblik verby is, is dit verby. Nie een van ons kan die horlosie terugdraai nie. Ja, om take af te handel is belangrik. Sperdatums moet gehaal word. Tog, verhoudings (met God en mense) moet die belangrikste bly. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u tyd en teenwoordigheid in my lewe. Help my om asseblief dieselfde vir my geliefdes te gee. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Is tyd en teenwoordigheid primêr in jou lewe? Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het.