Deur Benescke Janse van Rensburg

Die voorblad van Die Burger gister het my diep getref. Gehurk en in gebed het ’n groep seuns van Hoërskool Driekhoek in Vanderbijlpark van hulle vriend, die 16-jarige Marnus Nagel, afskeid geneem. Hy was die vierde leerder wat gesterf het nadat ’n betonblok verlede week van ’n loopbrug by die skool uit ’n staalstruktuur losgebreek en op leerlinge geval het.

Marnus is ná die ramp in ’n ambulans gelaai en daarna per helikopter na die hospitaal geneem. Sy toestand was deurentyd kritiek, maar sy geliefdes het bly hoop op ’n wonderwerk. Eergisteroggend moes hulle egter met gebroke harte van hom afskeid neem.

Wat my geraak het, is Marnus se laaste gesprek met sy ma, Daleen. Voordat hy met die helikopter vervoer is, was hulle vir ’n tyd lank saam in die ambulans. Hy het na haar gedraai en gesê: “Mamma, toe ek daar onder die sementblok lê, het ek vir juffrou geroep en haar gevra om vir my te bid. Toe sê ek vir haar as ek doodgaan, moet sy vir julle sê ek is baie lief vir julle.” Hierna het hy nie weer wakker geword nie.

Nie een van die ouers wie hulle kinders in die ramp verloor het, sou ooit kon raai dat die dag só sou eindig toe hulle die kinders die oggend by die skool afgelaai het nie. Die lewe is onvoorspelbaar – ook vir jou en my. In Prediker 9:12 lees ons: “Die mens ken selfs nie die tyd van sy dood nie.” Net God weet hoeveel lewensdae ons op aarde sal hê. Wat ons wel kan doen, is om seker te maak dat ons só leef dat as dit wel ons laaste dag op aarde is, ons met vrymoedigheid ons Maker sal kan ontmoet.

In Romeine 12:18 lees ons: “As dit moontlik is, sovêr dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” En in Efesiërs 4:26-27 staan geskryf: “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.”

Het jy ’n verhouding met God? Is daar iemand in jou lewe met wie jy moet gaan regmaak? Is daar iemand wat jy moet vergewe of wie jou moet vergewe? En het jy dalk nodig om jou geliefdes weer te vertel dat jy hulle lief het? Kom ons streef daarna om in vryheid en vrede te leef. Vandag is ’n geskenk. Kom ons maak die beste daarvan. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my lewensdae ken. Wys my asseblief deur u Heilige Gees as daar areas in my lewe is wat ek moet verander en gee my die krag om dit te doen. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Gee terugvoer of gesels saam oor die tema by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..