Deur Benescke Janse van Rensburg

Ek moes ’n tyd gelede ’n belangrike besluit neem. Die storie wat ek gehoor het, was soetsappig. Inteendeel, miskien juis aan my vertel met die doel om my te skok – en dit het. ’n Spesifieke vrou saam met wie ek ’n pad gestap het rondom ’n bepaalde uitdaging in haar lewe, het volgens die storie, doelbewus verkeerde besluite geneem. My uitdaging was: Gaan ek die storie glo of aan ek aan haar die voordeel van die twyfel gee totdat ek die volle storie gehoor het?

Ons almal was al daar. Jou huweliksmaat is laat vir julle afspraak of beantwoord nie sy of haar foon nie. Jou kollega doen iets in die werkplek wat jou warm onder die kraag laat. Jy hoor ’n soetsappige skinderstorie oor iemand wat jy nooit sou verwag het nie. Wat is jou eerste reaksie? Ontplof jy? Reageer jy in woede? Versprei jy daardie skinderstorie? Of kies jy om die persoon die voordeel van die twyfel te gee totdat jy al die feite het?

Die voordeel van die twyfel het al in die geskiedenis baie verhoudings gered en onnodige konflik verhoed. As ek bogenoemde storie geglo en daarop gereageer het, sou ek heel moontlik ’n verhouding onherroepelik beskadig het. Met al die feite op die tafel, het ek besef dat die storie totaal onwaar was. Soms wonder ek of die voordeel van die twyfel nie dalk die grootste geskenk vir iemand is nie – juis omdat dit aan die persoon teenoor wie ons dit bewys ons hul vertrou en respek vir hul demonstreer.

Soms het nodig om God die voordeel van die twyfel te gee. In pynvolle situasies (die verlies van ’n kind, ’n verhouding wat beëindig word, skuld wat al groter word, jy wat nie werk kry nie of gediagnoseer word met ’n siekte) word ons geloof getoets. Blameer en verwyt ons God? Of gee ons aan Hom die voordeel van die twyfel omdat ons glo dat Hy steeds in beheer van ons lewens bly?

In Openbaring 22:13 sê God: “Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.” Hy ken die einde van die begin. Hy is die einde van die begin. In Deuteronomium 29:29 lees ons ook:“Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God . . .” Dit sluit die dinge in waaroor ons kopkrap. En dan in Romeine 8:38-39 word ons herinner: Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Al voel dit dus vandag asof God jou verlaat het en jy nie die seisoen in jou lewe kan verstaan nie, wil ek jou aanmoedig om Hom die voordeel van die twyfel te gee. Niks tref Hom ooit onkant nie en niks kan ons van sy liefde skei nie. Kom ons gee Hom (en ons geliefdes) ’n slag weer die voordeel van die twyfel. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek U kan vertrou – al verstaan ek nie ’n situasie nie. Vergewe my waar ek U in die verlede blameer het in seer seisoene en help my om my oë op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Gee terugvoer of gesels saam oor die tema by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..