Tema: Sout en Lig

Deur Benescke Janse van Rensburg

Stories van mense wat ander help, al kos dit hulle hul eie gerief, raak my elke keer. Vroeër die week het ek weereens só storie raakgelees. . .

Op pad na ’n fietsryoefening, het die 10-jarige Vaughn en sy ma Mandy, by ’n petrolstasie in Gillitts gestop om petrol in te gooi. Oudergewoonte het die petroljoggie, Tony Antonio met hul geselsies aangeknoop. Tony het Vaughn se fiets op die dak gesien en hom gevra om asseblief vir hom uit te kyk vir ’n goedkoop tweedehandse fiets. Alhoewel Tony soggens die 6km werk toe en saans huistoe gedraf het, het sy knieë begin seer raak. Hy het dus ’n fiets benodig.

Daardie aand by die huis het Vaughn weer sy blik met “silwer note” uitgehaal en getel. Hy het dit aanvanklik begin versamel omdat hy graag sy ma op ’n vakansie wou neem. Dié keer het hy haar gevra of sy regtig op vakansie wou gaan omdat hy daaraan gedink het om eerder vir Tony met die geld te help.

Mandy vertel hoe Vaughn alles self besluit en beplan het. Met sy silwer note het hy ’n splinternuwe fiets vir Tony gekoop en dit in verlede week gaan oorhandig. Tony kon natuurlik nie sy oë glo nie. Hy vertel dat dit die laaste ding was wat hy ooit verwag het – en dit nogal van ’n 10-jarige! (sien foto onderaan)

In Filippense 2:3-4 lees ons: Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.  Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.”

As ma kan ek my indink hoe trots Mandy op hierdie onselfsugtige daad van haar seun moes wees. Tog, ons almal kan iets by Vaughn leer. Dit is nie met ons woorde nie, maar juis ons optrede dat ons Jesus se liefde aan ’n gebroke wêreld demonstreer.

Dít is die kern van hierdie maand se tema, SOUT en LIG. Jesus het gesê ons moet SOUT vir hierdie aarde wees en lig vir die wêreld. Mag ek jou uitdaag om jou oë oop te hou om in ten minste een mens se lewe die maand ’n verskil te maak? Wat vir jou iets klein is, mag iemand anders se lewe ingrypend verander. Kom ons wees sout en lig sodat die wêreld om ons die Een kan leer ken wie ons aanbid! Sterkte.

Vader God, baie dankie vir die liefde wat ek van U ontvang. Lei my deur u Heilige Gees om sout en lig vir die mense om my te wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Sien foto van Vaughn en Tony op sosiale media by:

Terugvoer: As jy wil saamgesels, stuur ’n e-pos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is belangrik.