Hennie Symington

“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, en met jou hele siel en met al jou krag en my jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”  Lukas 10:27

Die vrug van die Gees, daarenteen, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  Galasiërs 5:22-23

Hoog bo in die klowe van Bettysbaai groei daar ʼn skaars en baie gesogte blom – die Disa. Daar word baie oor die blom gepraat, maar nie almal doen die moeite om die opdraende voetpad deur distels en dorings uit te stap om dit met hulle eie oë te aanskou nie. Jy kan dit natuurlik op die brosjures sien maar dis nie heeltemal so mooi as om dit met jou eie oë te sien nie.

In God se koninkryk is daar ook sulke besondere en gesogte plante wat moeilik sigbaar is vir die ongeërgde besoeker in die landskap van geloof. Baie het al daarvan gehoor maar doen nie moeite om dit self te gaan soek nie.

Die eerste van hierdie flora is Genade. Dis ʼn blom wat nie gekoop of verdien kan word nie. Dit word vrylik gegee maar moet met sorg behandel word. Dit word gevoed deur ander te voed. Dit word bemes deur liefde en toewyding en deur die randfigure, die uitgeworpenes en die wat die samelewing as onsigbaar beskou, te bedien. Dit groei in dieselfde grond waar jy genade en aanvaarding van God ontvang het.

ʼn Tweede en baie gesogte blom is Verhouding. Hierdie plant is gewortel in ons verhouding met God wat menslike grense in ʼn verdeelde samelewing oorskry om diegene wat deur ons geminag en verwerp word, te omarm. Die Joodse filosoof. Martin Buber, het geskryf dat dit noodsaaklik is vir ons om God se aard in ons verhouding met ander te reflekteer.

ʼn Derde plant wat God graag in sy tuin wil sien is Aanvaarding. Dit is die manier waarop ons ons eie identiteit teenoor ander beleef. Die vraag is: wie is ek en hoe beleef ek my verhouding met die wat vreemdelinge en anders as ek is? Hierdie blom bied ʼn vergesig op ʼn gebroke wêreld waar versoening deel is van ʼn konkinkryk waar God alles en in almal is.

Die mooiste blom in hierdie geestelike tuin is egter Vergifnis. Dit is spruit uit versoening wat Christus op Golgota geplant het toe Hy gesterf het om ons te bevry van woede, haat, wraak en eiebelang.

Wat moet ek dan doen om hierdie plante in my tuin te laat groei? Gaan uit en saai die Woord en alles wat daarmee saamgaan en bid dat God die werk van jou hande sal seën.

Gebed: Hoe moeilik is dit nie om anders te leef as wat my menslike natuur van my vra nie. Here, help my iets van u natuur na te streef in my verhouding met ander. Amen