Hennie Symington

Die apostels sê toe vir die Here: “Gee ons meer geloof.” Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos ʼn mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.  Lukas 17:5-6

Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”  Lukas 11:61-62

Keer op keer lees ons hoe verbaas Jesus oor mense se gebrek aan geloof is. Hoekom? Omdat God ons met die gawe van geloof geskep het. Vir ʼn kind is geloof die maklikste ding op aarde. Die probleem is dat ons geloof deur negatiwiteit, skeptisisme, sarkasme of sinisme verdof word. Miskien omdat ons nie altyd mooi verstaan wat geloof is nie.

Geloof is handeling. Geloof is om te doen wat Jesus sê. Baie van ons voel dat ons nie genoeg van geloof weet nie, daarom moet ons meer daaroor lees. “Gee my meer geloof!” roep ons uit terwyl ons reeds glo. Al wat jy moet doen is om die geloof wat jy reeds het in werking te stel. Kyk maar na die geloofshelde in die Bybel – baie van hulle ook maar swak en twyfelagtig – wat nie net geglo het nie, maar gewaag het in die geloof. In Hebreërs 11 is die hele gallery van geloofshelde uitgestal ter illustrasie.

Daar kom ʼn tyd in elkeen se lewe wanneer ons ʼn sprong in geloof moet waag. Miskien moet ons ophou om “sit-en-slurp-gelowiges” te wees. Ons sit almal Sondae in die kerk en slurp alles oor die geloof op maar wanneer dit kom by die hand aan die ploeg slaan, sukkel ons daarmee. Ons is soos die Israeliete van ouds wat eerder in die woestyn ronddwaal in plaas daarvan om die land van geloof binne te gaan. Kom ons waag dit uit die nes en gee vlerke aan ons geloof. En voor jy weet sweef jy soos ʼn arend oor God se hemelse landskap.

Gebed: Here U is die wind onder ons vlerke wat ons in staat stel om te sweef soos arende. Amen