Hennie Symington

My dae loop vinnig soos ʼn wewerspoel, die draad raak gou op. Dink daaraan, God, dat my lewe maar net ʼn asempie is. Job 7:6

Die mens was nog altyd behep met tyd. Ons geboorte- en doopdatum word noukeurig aangeteken en ʼn geneesheer moet sertifiseer hoe laat en en op watter datum ʼn mens sterf. Dink net hoeveel datums moes jy in die geskiedenisklas memoriseer. Ja, kalenders en horlosies was nog altyd die mens se manier om tyd te beheer. Ons hardloop rond met een oog op die horlosie en die ander op ons taaklysie. “Moenie my tyd mors nie!”, “Tyd is kosbaar,” is deel van ons daaglikse woordeskat. Ons meet selfs mense in “man-ure”.

Ons verbeel ons tyd behoort aan ons. Ons sal besluit wanneer en vir hoe lank. Die fabriekswerker word gereguleer deur die sirene terwyl die wekker ons almal se baas is. Die ironie is dat tyd ʼn kosbare geskenk uit die hand van God is wat met omsigtigheid hanteer moet word. Dis reg dat ons ʼn dringendheid oor tyd ervaar want tyd kan nie uitgekoop word nie. Dit vraag is: waaraan bestee ons ons tyd?

Onthou net, jou tye is in God se hand. Hy wil hê dat jy tyd reg gebruik binne sy koninkryk. Daarom kry tydsbesteding eers sin as dit ooreenstem met jou waardes. As jy dit wat vir jou van waarde is binne God se skepping voorrang laat geniet, en jy jou tyd dienooreenkomstig beplan, sal jy minder konflik oor tyd ervaar.

Die Psalmdigter rig ʼn tydige versoek namens ons wanneer hy vra: Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom (Psalm 90:12). Jy kan nie die verlede verander nie maar niks keer jou om jou tyd van vandag af beter te bestuur nie. By jou tydsbeplanning moet die vraag altyd wees: Het ek God se tyd in berekening gebring in my beplanning vir die jaar?

Gebed: Here, tyd is ʼn gawe wat U aan ons gegee het om na goeddunke te gebruik. Help my om dit met verantwoordelikheid te doen. Amen