Hennie Symington

Ons waag dit natuurlik nie om ons op een lyn te stel of te vergelyk met sekere mense wat so ʼn danige dunk van hulleself het nie. Hulle is dom: hulle meet hulleself aan hulle eie maatstaf en vergelyk hulle self met hulleself. Maar wat ons betref, ons sal met ons roem nie buite die perke gaan nie. Ons bly binne die perke wat die werkkring van God aan ons toegemeet het. Julle val ook binne daardie perke. 2 Korintiërs 10:12-13

Die meeste van ons het ʼn liefde/haat-verhouding met onsself. So baie van ons kan net nie vrede maak met wie ons is en hoe ons lyk nie. Wanneer ons in die spieël kyk sien ons die tekens van die tyd en die merke van die lewe op ons gesigte uitgekerf. Soms kan ons net nie vrede maak met die tipe mense wat ons is nie – nie slim genoeg nie, nie fluks of ambisieus genoeg nie, nie sorgsaam genoeg nie, ens.

Die probleem is dat as jy nie met jouself kan saamleef nie, gaan jy sukkel om met ander saam te leef. As jy jouself meestal sien as ʼn onbenullige skaamrosie of ʼn hardvogtige turksvy moet jy dalk ʼn slag met God se oog na jou kyk. God sien jou heeltemal anders. Hy sien jou as ʼn noodsaaklike en pragtige toevoeging tot sy aardse tuin – enig in sy soort. Voordat jy weer so mismoedig raak oor jouself, bestudeer die volgende voorskrifte en probeer om dit toe te pas:

  • Moenie jou onderskat nie.
  • Moenie jou met ander vergelyk nie.
  • Fokus op jou potensiaal en nie jou beperkings nie.
  • Wees dapper genoeg om anders te wees.
  • Leer om kritiek te hanteer.
  • Moenie dat ander besluit oor jou waarde as mens nie.
  • Sien jou foute in perspektief. Niemand is volmaak nie.
  • Sien jouself as ʼn kind van God.
  • Dink en sê goeie dinge van jouself al is dit net teenoor jouself, omdat jy weet dat God jou liefhet – gebreke en al.

Ten slotte kan ek nie nalaat om die geykte uitdrukking “God het jou gemaak, en Hy maak nie gemors nie” hier aan te haal. Gaan dink na daaroor.

Gebed: Here, vergewe my dat net op die negatiewe konsentreer en vergeet dat ek na u beeld geskape is en dat U my lief genoeg gehad het om vir my aarde toe te kom. Amen