Hennie Symington

Maar die wysheid, waar word dié gevind, Waar is die woonplek van insig? Job 28:12

Wat my betref broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie. Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde. Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom. Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God. 1 Korintiërs 2:1-5

Laat die kennisontploffing jou ook sidder? Ons kan maar net ons hande saamslaan oor die wonder van die tegnologie. Daar word gesê dat die Middeleeuse teoloog en filosoof Thomas Aquinas die laaste geleerde mens was wat al die kennis wat in sy tyd bestaan het in sy gedagtes kon omvat. Daarna het die omvang van kennis so geweldig uitgebrei dat dit ʼn leërskare in elke dissipline vir ewig sou neem om alles te weet wat daar te wete is.

Daar is natuurlik mense wat baie slim is en vir wie die geheim van die ontstaan van die lewe geen geheim is nie. En vir wie geen wiskundige probleem te moeilik is nie, en vir wie astrofisika ʼn ope boek is, en wat die gawe het om wonderlike verhale en poësie oor al die onderwerpe onder die son te skryf. Maar watter kennis het God in gedagte wanneer Hy oor kennis en wysheid praat? Sekerlik nie net boekgeleerdheid, akademiese uitmuntendheid of intellektuele vermoëns nie. Want dan sou die meeste van ons maar bedroë daarvan af gekom het.

Die kennis waarna God verwys, is ʼn geestelike intelligensie - die gawe om te kan kies tussen dit wat belangrik en dit wat onbelangrik is, om bewus te wees van die grootheid en die verskeidenheid van die skepping sonder om deur al die kennis oorweldig te word. Dit sluit ook selfkennis in. Om jou aard en wese te ondersoek en te weet wat jou swakpunte en jou goeie punte is en ook om te weet wat jy glo en wat vir jou belangrik is. God se gawe van wysheid en kennis vereis nie ʼn universiteitsgraad nie omdat dit beskikbaar is aan die eenvoudigste onder die eenvoudigstes en die slimste onder die slimstes.

Gebed: Here, rus my toe met ʼn geestelike wysheid wat my in staat sal stel om nie deur die kennis van hierdie wêreld oorweldig of verwar te word nie. Amen