Hennie Symington

Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? En wanneer het ons U ʼn vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’ Matteus 25:37-40

“‘Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen. Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word. Dit verseker ek julle: Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie.’” Lukas 14:21b-24

Ek was honger

en jy het menseregtegroepe gestig om dit te bespreek.

Ek was in die tronk

en jy het saggies in die kerk gebid vir my ontslag.

Ek was naak

en in jou gedagtes het jy gewonder of ek ordentlik genoeg was vir die kerk.

Ek was siek

en jy’t God op jou kniëe gedank vir jou gesondheid.

Ek was eensaam

en jy het my alleen gelos om vir my te bid.

Jy lyk so heilig en so naby aan God

maar ek is steeds baie honger, en eensaam en koud.

(verwerk en vertaal uit: Words for Worship, 1980)

Sodra ons vergeet dat alle mense na die beeld van God geskep is en nie net siele of liggame is nie, vergeet ons van die mens agter die nood. Maar as ons ons naaste liefhet, soos Jesus van ons vra, kan ons nie anders as om begaan te wees oor hulle nie. Ons kan dit waag om grense te oorbrug en gasvryheid te betoon aan mense buite ons veilige sosiale kring omdat ons dit doen asof vir Christus.

In die Christelike geloof het elke mens ʼn onvervreembare waarde as mens. Man, vrou en kind is almal na die beeld van God gemaak. En as jy dit glo, laat dit sigbaar word in jou lewe.

Gebed: Here, ons hou nie baie van die armes en die sukkelaars nie want hulle vra iets van ons wat ons moeilik gee – werklike liefde en sorg. Leer my om te gee soos U vir die armes omgegee het. Amen