Hennie Symington

Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: “ʼn Man het ʼn vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie, sê hy vir die tuinier: ‘Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?’ Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie kan u hom uitkap.” Lukas 13:6-9

Die spreekwoord sê die pad na die hel is geplavei met goeie voornemens. As dit waar is, dan is dit klaar met ons sommer hier in die derde week van die nuwe jaar. Wat as die teenoorgestelde waar is? Sê nou die pad hemel toe is geplavei met goeie dade wat by die woord gevoeg word? Hoeveel van ons gaan dan by die hemelpoorte inkom? Miskien moet ons liewer daarvan vergeet om al ons slegte gewoontes oornag te probeer verander en kyk na ʼn meer langtermynstrategie. Hier is ʼn paar voorstelle:

Maak die wêreld ʼn mooier plek om in te woon. Daar is talle maniere om dit te doen. Plant ʼn boom, gee jou onverdeelde aandag aan ʼn eensame persoon, vra om verskoning as jy iemand seergemaak het in woord of daad, probeer om een dag lank nie te skinder of negatiewe aanmerkings te maak oor mense wat anders is as jy nie.

Maak die goeie werk wat deur ander begin is klaar. Dis hoe talle diensorganisasies soos die Vrouefederasie, die Rooi Kruis, huise vir terminaal siek pasiënte, kinderhuise, en bejaardesorgsentrums en ander voortbestaan.

Steek die hand in eie boesem in plaas daarvan om die vinger na ander te wys vir alles wat verkeerd loop in die samelewing.

Leef volgens die beginsels wat jy aan jou kinders voorhou sodat die volgende geslag dit die moeite werd sal ag om in jou voetstappe te volg.

Wat as die lam en die leeu kon saam wei en ʼn klein seuntjie hulle kon lei. Dan sou ons drome kon droom oor ʼn nuwe Jerusalem waar God by ons en onder ons kom woon.

Natuurlik is nie een van ons volmaak soos God nie, maar ons kan almal iets van God se aard in ons lewens uitstraal.

Gebed: Vader, laat my versugtings nie by wensdenkery bly nie. Help my om soms ʼn brawe treetjie in die geloof te waag in die rigting van ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde sodat iets van u Koninkryk in my stukkie aarde tereg sal kom. Amen