Hennie Symington

“Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei - hóé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers ʼn halm, dan ʼn aar, dan die vol koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.” Markus 4:26-29

Hoe vorder jou hemelse tuintjie? ʼn Paar wenke: Begin jou tuintjie met die Lankmoedige Rankrosie. Dit is verwant aan die haak-en-steek-bossie maar is baie mooier en blom dwarsdeur die jaar. Dit is gewortel in vriendelikheid en respek vir die naaste aan jou en sy beste eienskap is onverdunde geduld. Dit help jou om die tweede myl te loop met die wat swaarkry en om jou tong in toom te hou selfs wanneer die moeilik is om stil te bly. Dit is om aan te hou omgee, lank nadat jy gedink het jy’t reeds jou deel gedoen.

Dan is daar die Amore Bedelaria. Dis ʼn nie ʼn gewilde plantjie nie, want hy vra baie toewyding en geduld om te groei.

My gunsteling is egter die Anti-fronsie Botoxia potplant. Baie gewild veral onder middeljarige dames. Al wat dit vra is ʼn bietjie selfliefde om te blom. Dit help jou om meer te lag as te frons en maak jou ʼn baie aangenamer persoon om mee saam te leef terwyl dit jou fronslyne in lagplooitjies verander. En dis gratis!

Dan is daar die Kruidjieroermybos. Dis veral goed vir middeljarige tot meer bejaarde mans wat glo hulle ken al die antwoorde en dink hulle hoef nie te verander of iets nuuts aan te pak nie. Hierdie plantjie gee ʼn wonderlike geur af wat mense uitnooi om deel te wees van God se wonderlike skepping. Dit leer ons om verandering te aanvaar en om elke dat iets nuuts te ontdek. En moenie vergeet van die Vredesplantjie wat verlangs familie is van die Haak-en-steekbossie nie.

Vir verdere inspirasie vir jou geestelike tuintjie blaai deur die Bybel en bestudeer die vrugte van die gees. Ruil jou lysie uit met jou bure en voor jy weet gaan mense begin sê: “Mensig, maar sy/hy het darem verander! Ek wil ook ʼn paar van daardie plantjies in my tuin plant.”

Gebed: Here, U het vir ons ʼn innerlike tuin geskep met die saad van wat goed en reg is. Help my om dit so te vertroetel dat ek die vrugte daarvan aan almal in oorvloed kan uitdeel. Amen