Hennie Symington

Dan is daar die mense by wie daar soos op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en aanvaar en vrug voortbring, party dertig-, party sestig- en party honderdvoudig.”  Markus 4:20

Die jaar het skaars begin maar ek verstout my om te sê dat daar reeds miswolke voor die son verskyn het. Daar moet tog ʼn manier wees om hierdie ding van goeie voornemens en verydelde beloftes wortel en tak uit te roei. Daar is! Begin ʼn hemelse tuin in jou binneste. Maar hoe kry ʼn mens dit reg wanneer jy lankal kontak met jou innerlike landskap verloor het?

Begin deur 'n bestekopname van wat daar in jou tuin groei. Kyk na binne en begin by die onkruid. En terwyl jy daarmee besig is, knoop ʼn gesprek aan met jouself waar jy nie net met God worstel nie maar ook met die welige onkruid wat op jou pad van heiligmaking groei. Ons lewens is vol indringer- en toksiese plante wat nie net ons innerlike omgewing vergiftig nie maar ook diegene naaste aan ons. Ons gebrek aan liefde, negatiewe gedagtes, gemene opmerkings, slegte gewoontes, inhaligheid – noem maar – maak ons lewens ʼn oerwoud van verwyte en verydelde drome.

Kom maak die jaar liewer ʼn ander soort tuin met plante wat die wêreld ʼn beter plek sal maak. Vir elke stukkie onkruid wat jy uittrek, plant jy ʼn pragtige plant. Jy hoef nie eens vir die regte seisoen te wag nie! God se seisoen is altyd. En die seisoen is nou! En voor jy kan sê “Wag-ʼn-bietjiebos!” groei jou tuintjie soos ʼn wafferse tuin van Eden met genoeg blomme om armsvol ruikers uit te deel aan ander. En in plaas daarvan om deur die dorings en dissels versmoor te word, sweef jy ligvoets soos ʼn sydissel oor God se skepping.

Gebed: God, dit was U wat die eerste boom geplant het en ons geleer het om tuin te maak. Ons kon dit toe nie regkry nie en sukkel steeds daarmee. Dankie dat U u Seun gestuur het om saam met ons die lande te ploeg en die saad te plant. Amen.