Hennie Symington

Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ʼn slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. Filippense 2:5-7

Reël een: Wys die wêreld hoe God lyk. Mense leer hoe God lyk deur te kyk na mense wat goddelike dinge doen. Jy hoef nie volmaak te wees nie, maar kan deur jou lewe iets van God se aard uitstraal.

Reël twee: Wees dankbaar vir die lewe wat God jou geskenk het. Die grootste kompliment wat jy aan die gewer van ʼn geskenk kan maak is om die geskenk ten volle te geniet. Jy is dit dus aan jou Skepper verskuldig om so gelukkig te wees as wat jy kan sonder om jou te belas met onnodige skuldgevoelens en verwyte. Die lewe is meer as ʼn eksamen waar jy moet bewys hoe goed of hoe slim jy is. Dis ʼn avontuur met laagtepunte, hoogtepunte en gelyktes, maar altyd ʼn onvergelyklike ervaring.

Reël drie: Wanneer jou lewe op ʼn laagtepunt is, beweeg aan of probeer ten minste om een voet voor die ander te sit al verg dit by tye al jou krag en inspanning om dit te doen. Al is die pad hoe donker, kyk hoe ver jy voor jou uit kan sien.

Reël vier: Verwag dat daar tye van vertwyfeling sal wees want geloof is nie ʼn eenvoudige optelsom of ʼn eksakte wetenskap nie. Soms is die lewe saai en vervelig en sommer net sêd. Vat elke dag soos dit kom. Troos jou daaraan dat Jesus gehuil het, soos jy, dat heiliges ook gesondig het, dat die liewe Petrus ontrou was en dat die dissipels ʼn klomp bangbroeke was toe hulle moes staan waarvoor hulle geglo het.

Reël vyf: Aanvaar dat geloof ʼn tou om jou bind wat jou lei waar jy nie altyd graag wil wees nie. God laat hom nie lei nie, Hy’s die een wat lei.

Môre bespreek ons 'n verdere vyf reëls vir hierdie nuwe jaar.

Gebed: Here, dankie vir ʼn nuwe jaar met nuwe uitdagings. Dankie dat U steeds u hand na my uitreik om die pad saam met my te stap. Amen.