Hennie Symington

Daarna het hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. Matteus 2:11b

Hier aan die einde van jaar brand ons hoop op ‘n geseënde Kersfees hoog. Maar pasop vir die slang in die gras. In ons gedages het ons al reeds lysis gemaak van alles wat ons vir Kersfees begeer. Sommige van ons beskou dit as “terugbetaling” vir alles wat ons vir almal die afgelope jaar gedoen het, terwyl ander nie hulle gedagtes kan opmaak oor wat om vir hulle geliefdes te gee nie.

Wat het Jesus vir Kersfees gekry? Het jy al ooit gedink aan die betekenis van die geskenke wat Jesus by sy geboorte ontvang het?

Goud – die teken van koningskap. As die koning van die hemel, verdien Hy ‘n goue kroon, maar word later met ‘n doringkroon beloon.

Wierook – word gebruik by die verbranding van ‘n offerande en dui nie net op Jesus se priesterlike amp nie, maar dui ook op die offer wat Hy gemaak het.

Mirre ‒ ‘n swaard het waarskynlik deur sy ouers se harte gegaan toe hulle die geskenke aan Jesus se voete gelê het, aangesien mirre gebruik word om die dooies te balsem. Soos die ander geskenke was hierdie geskenk oor profeties.

Ons weet nie wat die herders aan Jesus se voete gelê het behalwe hulle teenwoordigheid en hulle blydskap oor die kind wat in die krip gelê het nie.

Watter geskenke bring jy aan Jesus? Die heel beste geskenk wat jy aan Christus kan skenk, is om dwarsdeur die jaar, aan die wêreld te wys hoe Christus lyk, aan ‘n mensdom wat die ware betekenis van Kersfees lank reeds langs die pad byster geraak het.

Gebed: Jesus, Kersfees sonder U is soos ‘n kersete sonder smaak. U is die onmisbare, die ewige en die wonderlike God wat soos een van ons geword het om aan ons te toon wie God is. Amen