Hennie Symington

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. Johannes 1:14

In feitlik alle mites dwarsdeur die geskiedenis van die mensdom, vind ons verhale van die mens wat homself as ʼn god sien of soos God wil wees. Dit het alles begin by Adam en Eva wat nie die vrug van die kennis van goed en kwaad kon weerstaan nie. Dit was nie lank daarna nie, of die mens bou ‘n toring sodat hy kan sien wat God in die hemel daarbo maak (Genesis 11:4). Later lees ons van Nebukadneser (Daniël 3:5) wat mense opdrag gee om hom en hom alleen te aanbid, en vandag se mense is so slim, dat hulle God heeltemal uit die skeppingsverhaal uitgesluit het.

God verhang die bordjies. Nêrens in die geskiedenis lees ons van 'n god wat soos een van ons geword het nie, behalwe Jesus. Hy het soos een van ons geword sodat Hy die breuk tussen hemel en aarde kon herstel. Met sy koms na die aarde, het die hemel nie slegs die aarde aangeraak nie, maar die aarde self het na die hemel uitgereik.

Die Wonder van Christus se inkarnasie of se menswording is dat dit nie beperk was tot tyd, plek, nasie of geslag nie. Jesus is eenkeer as een van ons gebore sodat elkeen van ons verewig die moontlikheid kon smaak om nuutgebore te kan word. Hy word gebore in die harte van miljoene mense regoor die aardbol, elke enkele dag. God sit sy werk op aarde voort deur lewens van mense wat glo dat die koninkryk naby is en binne in ons is.

Gebed: Here, dankie dat U nie net aarde toe gekom het, net om ons weer alleen te laat nie, maar dat U keer op keer in die harte van mense gebore word tot u Koninkryk kom en U alles in almal sal wees. Amen.