Hennie Symington

Dít verseker Ek julle, As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in. Johannes 12:24

Vir die meeste van ons is om in ‘n groef te wees, ons natuurlike bestaanswyse. Ons hou nie van verandering nie, en wat meer is, ons kan nie insien waarom ons hoef te verander nie. Ons glo dat 'n luiperd nie van kolle verander nie, en dat ‘n mens nie ‘n ou hond iets nuuts kan leer nie.

Nou wonder ‘n mens net wat God dink van hierdie soort denkwyse. Deur te glo dat ‘n mens “so gemaak en so gelaatstaan is” ontken geheel en al die moontlikheid dat geloof ‘n radikale verandering in jou lewe te weeg kan bring. Vanuit 'n Christelike oogpunt, gaan dit nie oor wie of wat jy is nie, maar oor wat of wie jy kan word. So seker was God dat verandering kan geskied, dat Hy hemel en aarde beweeg het om ons die moontlikheid op verandering te bied. Vir ‘n oomblik het hemel en aarde ontmoet toe Hy sy Seun gestuur het om in nederige omstandighede, uit ‘n nederige aardse moeder gebore te word, sodat ons ware natuur herstel kon word.

Kersfees lui die omwenteling in. Kersfees is inderdaad die seisoen vir verandering. As jy daarvoor berug is dat jy almal verkeerd opvryf met jou ongeduld, nou is die tyd om verdraagsaamheid te leer. As jou vinnige humeur geen perke ken nie, nou is die tyd vir ‘n sagter benadering. As jy nie tyd het vir die armes nie, nou is dit tyd om die “laastes” eerste te stel, en die “eerstes” laaste. Nou is dit tyd om jou trots by die Redder se wieg neer te lê en te glo jy kan weer gebore word. Jy kan wees wat God gedroom het jy kan wees: ‘n skitterende diamant deur die Meester geslyp om te wees wat jy bestem was om te wees.

Mag die Kind in die krip jou inspireer om uit jou grimmige groef te ontsnap en hierdie Kersfees te vier as die “nuwe jy”.

Gebed: Here, ons is tog so lief om te roem op wie en wat ons is: “Dis hoe ek is, vat my of los my.” Maar U het na ons toe gekom om ons ‘n ander moontlikheid te bied. Open my hart op die moontlikheid van verandering sodat ons hierdie Kersfees “hemel op aarde” in die ware sin van die woord kan beleef. Amen