Hennie Symington

As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”  Johannes 14:14

Die hedendaagse mens met sy liefde vir kitsoplossings en spoed, hou nie daarvan om te wag nie. Vir ons is dit ‘n geval van: Hoe gouer, hoe beter. Ons hou daarvan dat dinge teen die spoed van lig moet gebeur. Soms is die modern tegnologie vir ons te stadig. Kitskos is ons daaglikse brood en die hemel help jou as jy iemand laat wag by die verkeerslig.

Wanneer God dan soms vir ons laat verstaan, “nie nou” nie, klink dit vir ons soos “nooit nie”. In ons gedagtes glo ons dat God se beloftes slegs aan die einde van tyd waar sal word, terwyl ons vergeet van die talle beloftes wat reeds in ons dae vervul is. Moeilik vir ons skeptiese geslag om te glo?

Beloftes wat reeds waar geword het: Baie eeue gelede, toe koning Salomo die tempel wat hy vir die Here gebou het ingewy het, verklaar hy: “Geloof sy die Here wat aan sy volk Israel ‘n vaste woonplek gegee het soos Hy beloof het." (1 Konings 8:56)

In ons eie lewens hier en nou word die volgende beloftes daagliks vervul:

God vergewe ons sonde: "Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons sondes en reinig ons van alle ongeregtighede." (1 Johannes 1:9)

God se aard is standvastig en trou: "Ek die Here, het nie verander nie, daarom het julle nie te gronde gegaan nie, nageslag van Jakob." (Maleagi 3:6)

God sal ons nooit verlaat nie: " … En onthou, ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. (Matteus 28:20)

God stuur sy Heilige Gees om binne in ons te woon: "Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het …" (Efesiërs 1:14a)

Ons is God se familie: "In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ons ook al daarvoor bestem is om deur Jesus Christus sy kinders te wees." (Efesiërs 1:5 )

Die grootste belofte egter, wat God in menseheugenis tot vervulling gebring het, is dat Hy sy seun gestuur het om die mensdom met God te versoen. “die Maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring en hulle sal Hom Immanuel noem." (Matteus 1:23)

Gebed: Here, help ons om Kersfees te geniet met ‘n houding van onthouding, en in die sekerheid dat God se talle beloftes daagliks in ons lewe vervul word. Amen