Hennie Symington

Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom, en gevra, waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is” Ons het sy ster gesien opkom en ons het gekom om aan hom hulde te bewys.” Matteus 2:2

Die wyse manne – ons weet nie of hulle konings of sterrekundiges was nie – het ‘n besonderse helder ster in die hemel gewaar. Hulle het hulle navorsing gedoen en toe besluit om die hierdie besonderse hemelliggaam te volg – byna soos Abraham, wat geslagte te vore, die stem van ‘n onbekende en onsigbare God gevolg het.

Abraham se visie het sy mense na die beloofde land gelei, terwyl die wyses se visie hulle gelei het na Betlehem. Dit was ‘n lang en moeisame trek van bykans 2 500 km met geen paaie wat hulle daarheen kon lei nie. Maar hulle het nie opgegee nie, want waar daar visie is, beweeg mense vooruit. Abraham het dit bewys en die wyse manne het dit bevestig.

Wat is jou visie in die lewe?

Dalk het jy ‘n droom maar doen niks om dit ‘n werklikheid te maak nie. Volg die voorbeeld van die wyse manne. Hulle het hulle visie aan ‘n ster gekoppel en iets ver bo hulle wildste verwaging ontdek: Die Redder en die Saligmaker van die mensdom.

Gebed: Here, gee my ‘n visie in my hart en die wysheid om die Ster te volg wat helderheid skenk. Amen