Hennie Symington

Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is 'n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op 'n donkie, op die hingsvul van 'n donkie. Sagaria 9:9

 “Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.” Matteus 24:44

Van nou af tot Kersdag bevind ons ons in ‘n staat van afwagting en begin ons die dae voor Kersfees aftel, want hierdie tyd van die jaar is Advent. Maar wees op jul hoede. Pasop vir valse nuus!

Die boodskap van die adverteerders en verkopers van die Kersfeesbedryf is, hoe meer ons koop, en hoe blinker ons feesvierings is en hoe meer plastiek groenigheid ons bokant die nok van die voordeur hang, en hoe vroliker en hoe joliger ons raak hoe geseënder gaan ons Kersfees wees.

Ten spyte van al die blink en klatergoud, en nagemaakte kersvrolikheid, bly Kersfees iets waarna ons almal reikhalsend uitsien. Ons tel saam met die kleingoed die dae op ons Kerskalender noukeurig af. ‘n Paar weke van wag is egter niks in vergelyking met seshonderd jaar nie. Dis hoe lank die Jode moes wag na die vernietiging van Jerusalem voordat hulle kon terugkeer na die beloofde land. En terwyl hulle wag, het die profete Jeremia en Sagaria hulle verwagting lewendig gehou met voorspellings van ‘n Koning wat eendag hulle land sal herstel en die tempel herbou. Trouens, Sagaria skets ‘n hemelse toneel van die plein in Jersualem vol ou manne, en seuns en dogters wat saam baljaar. Te midde van uiterse moedeloosheid bring hy ‘n boodskap van hoop. Ten einde laaste word die boodskap van hoop waar wanneer ‘n kind gebore word in ‘n stal onder die sterre en met 'n hemelse engelekoor wat oor die Koning wag hou.

Vandag is ons steeds vol verwagting. Ons wag nie slegs om die geboorte van ons Redder te vier nie, maar sien terselfdertyd uit na die wederkoms van Christus. En terwyl ons wag, bly ons waaksaam, sodat, wanneer Hy kom, ons nie besig sal wees met kersversierings en vaderkrismis nie, maar met koninkrykswerk.

Vier gerus Kersfees met allerhande vrolike gebruik en tradisies solank ons onthou dat die koms van die Koninkryk die eerste prioriteit is.

Gebed: Here, so dikwels gaan Kersfees ons verby as net maar nog ‘n dag op die kalender in plaas daarvan om te jubel in die dag toe U die aarde besoek in die gestalte van ‘n kind. Amen