Hennie Symington

Voor alles was Hy daar, en deur Hom bly alles in stand. Kolossense 1:17

Te midde van die talle sogenaamde "redders” en messiaanse figure deur die geskiedenis, staan Jesus, nie as ‘n blote voetskrif in die geskiedenis nie, of as 'n filosofie of ontoeganglike stukkie etiek wat slegs ‘n klein groepie kan verstaan nie. Jesus doen Hom ook nie voor as een of ander sjamaan of heilige wat beloof om ons nader aan God te bring deur 'n reis van selfontdekking nie.

Wie is Jesus dan?

Hy is die Goddelike een, die Een wat reeds was voor tyd en ruimte; Hy is inderdaad God self. Hy is die Skeppergod omdat alles deur Hom geskep is (v.16), Hy is die Hoof van die liggaam van die kerk op aarde omdat Hy die eerste is wat die dood oorwin het. Meer nog, God het gekies om in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen.

Dit is duidelik dat ons nie te doen het met ʼn blote afskynsel van God, of slegs ‘n hulpelose kind in stal nie. Christus is inderdaad die Pantokrator – die Heerser van die heelal.

Die diepste waarheid rakende Christus is egter dat hy hom kwesbaar gestel het om sodoende in die harte van mense gebore te word.

Gebed: Here, U as die Heerser van die heelal het in eenvoud na ons toe gekom uit liefde vir die mens. Ons eer U en wy ons hierdie Kersfeestyd opnuut toe aan U as die Heerser oor ons lewens.  Amen.