Hennie Symington

Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe, ek wil die lof van my God bring so lank ek daar is. Psalm 104:33

Die uwe, dis nou ek, vier vandag my 70ste verjaarsdag! Gewoonlik hou die dames hulle ouderdom geheim, maar ek basuin dit graag aan almal uit. Hoekom? Omdat ek so geseënd was op talle maniere deur die jare, selfs deur moeilike tye. Ek het twee wonderlike ouers gehad, ‘n handvol susters en een broer, (wat nog almal lewe), ‘n lewensmaat sonder gelyke, en drie kinders wat my my soveel vreugde verskaf. En boonop twee kleinkinders. Wat meer kan ‘n mens vra?

Ek het vreugde ervaar in die verskillende beroepe wat ek gehad het en die talle wonderlike mense wat oor die jare my pad gekruis het, tuis en nou in Japan waar dit my voorreg is om die Here te dien op ‘n vreemde akker.

Selfs gedurende die hartseertye in my lewe, het ek die versekering van Job gehad dat die hoop nie beskaam nie. Jy "kan jy jou swaarkry vergeet en daaraan dink asof dit waters is wat weggeloop het. Jou lewe sal meer lig hê as die helder middag, jou donker sal lig word soos die more." (Job11:16-18)

Gebed: Dankie God, vir so veel blye dae en die tye wat U my deur moeilike tye gedra het, en dat U steeds u hand oor my hou. Amen