Deur Benescke Janse van Rensburg

Moeg het die soldate terug by die kamp aangekom uit die oorlog. Die konflik in die gevegsone was intens. ’n Klomp soldate is ernstig gewond. “Luitenant,” het een van die troepe benoud gevra. “Ek vra toestemming om terug te keer na die gevegsone. My vriend is nie hier nie. Ek dink hy is gewond.” Die luitenant het geskok na die troep gekyk. Almal het geweet dat indien hy die versoek toestaan die troep sy eie lewe in gevaar sou stel. Hy het dus dadelik geweier. Die kanse was in elk geval goed dat die man se vriend reeds gesterf het.

In die hitte van die oomblik het die soldaat die bevel van die luitenant verontagsaam en terug na die gevegsone gehardloop. Oomblikke later was hy op pad terug met sy vriend se dooie liggaam in sy arms. In die proses is hy ook ernstig gewond.

Die offisier was woedend. “Ek het jou mos gesê jou vriend is dood. Nou is jy ook ernstig gewond!”  Toe die luitenant sien hoe ernstig die soldaat verwond is, het hy met deernis gevra: “Was dit darem die moeite werd om jou lewe te waag om jou vriend se liggaam uit te bring?” Die sterwende man het geglimlag: “Verseker, luitenant! Toe ek by my vriend kom het hy nog gelewe. Toe sê hy vir my: ‘Ek was seker jy sou kom!’”

God het aan ons die gawe van vriendskap gegee – met mense, maar ook met Hom. Die wete dat daar iemand is wat jou sal bystaan en jou help om jou las in moeilike tye te dra. In Johannes 15:13 sê Jesus: Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.” InPrediker 4:9 lees ons: Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp.” En in Spreuke 18:24 staan geskryf: “Daar is party vriende wat net praat maar wat niks help nie, maar 'n vriend kan vir jou meer lief wees as 'n broer.”

Watter tipe vriend of vriendin is jy vir ander mense? Iemand op wie ander kan staatmaak en steun? Of is jy net met mense vriende solank hulle iets vir jou kan beteken in die lewe? En hoe lyk jou vriendskap met God? Besef jy dat Hy ons in essensie geskep het om ’n vriendskapverhouding met Hom te bou?

My gebed is dat ons die vriende en vriendinne sal word vir ander wat ons graag in ons lewens begeer. Ook dat ons nie net ’n verhouding met God sal bou nie, maar ook ’n ware vriendskap! Hy het immers sy Seun gegee sodat ons nie verlore sal gaan nie, maar sodat ons weer met Hom versoen kan word! Mag ons dít nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ons ’n vriendskap met U kan bou. Help my asseblief om te verstaan wat dit beteken. Lei my ook om ander te ondersteun en lief te hê soos wat U dit bestem het. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.