Deur Benescke Janse van Rensburg

Verbeel jouself vir ’n oomblik jy staan in die middel van ’n gevegsone. Jy is ’n soldaat. Rondom jou klap die skote. Die stryd is hewig. Die adrenalien pomp. Dan, meteens is daar ’n luide gejuig. Die situasie draai. Julle het die oorhand. Die vyandige weermag gooi hul wapens neer en vlug!

Later vier julle fees . Dankbaar vir die deurbraak. Die stryd is verby en nou kan julle ontspan – of so dink julle. Die oomblik toe julle jul wapens neersit en nie meer paraat is vir aanvalle omdat “die vyand mos verslaan is”, die vyand se sy magte besig is om nader te kruip met ’n nuwe strategie om aan te val en te verwoes.

Dít is die werklikheid in ons lewens. Wanneer ons ’n krisis beleef in die vorm van byvoorbeeld ’n huwelik op die rand van egskeiding, ’n geliefde wat nog nie gered is nie, ’n verslawing, ’n krisis by die werk, ’n siektetoestand of finansies wat druk, bid ons. Ons vas. Ons salf. Ons hou nagmaal. Ons fokus op God. Ons bid vurig vir ’n deurbraak en roep Hom aan vir wysheid. Wat gebeur sodra ons hierdie deurbraak beleef het? Sit ons die wapens neer om te ontspan? Of bly ons paraat met ’n hart vol geloof in God?

In Efesiërs 6:12 word ons herinner dat ons daagliks in ’n oorlog is: “ ... ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Ook in 1 Petrus 5:8 lees ons: Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.”  Hoe weerstaan ons die vyand? Ons vind die antwoord in Efesiërs 6:13: “Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.” Ook in 1 Petrus 5:9 lees ons: Bly standvastig in die geloof en staan hom teë.”

In watter area van jou lewe het jy ’n deurbraak beleef? Natuurlik moet ons bly wees oor ’n deurbraak en daaroor getuig, maar kom ons onthou om ook paraat te bly. Kom ons hou aan bid vir ons huwelik, vir ons gesondheid, vir die nuut geredde familielid, die persoon wat vrygekom het van sy of haar verslawing of die atmosfeer in die werkplek. Kom ons trek daagliks die wapenrusting aan en sorg dat ons standvastig in die geloof bly. Nie een van ons wil ooit deur die vyand onkant betrap word nie. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U almagtig is en in beheer van my lewe. Baie dankie ook vir elke deurbraak (noem spesifiek as jy wil) wat U vir my gegee het in die verlede. Lei my asseblief deur U Heilige Gees om paraat te bly en weerstand te bied teen die vyand se aanvalle. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.