Benescke Janse van Rensburg

Sowat twee weke gelede het die nuusblaaie van Thailand oor ’n wonderwerk berig. ’n Groep inwoners van ’n blok woonstelle in Thailand het ’n baba ontroosbaar hoor huil. Toe hul gaan ondersoek instel het hulle agter ’n 2 meter hoë heining in ’n klein piesangplantasie langs die gebou’n pasgebore babaseuntjie, nog met die plasenta en naelstring aan, onder die piesangbome ontdek. Verlate.

Met nadere ondersoek is ontdek dat sy tienerma dié seuntjie na geboorte van die vyfde verdieping van die woonstelgebou afgegooi het. Die dik, piesangboom blare het sy val gekeer. Dit is ’n wonderwerk dat hy oorleef het en net ’n paar skrapies opgedoen het.

Kan jy jouself indink hoe hierdie seun sal voel as hy groot genoeg is om die storie te verstaan? Die een persoon wat hom die liefste moet hê en hom moes beskerm het hom só verwerp. Tog, soms in ons lewens ervaar ons dieselfde – jou huweliksmaat wat ’n buite-egtelike verhouding aanknoop, ’n vennoot wat jou uit al jou geld verneuk, jou kinders wat hul rug draai op jou as ouer, jou ouers wat jou onterf, ’n vriendin wat jou seermaak. Hierdie verwerping maak seer. Dit ruk ons tot in ons diepste wese.

In Psalm 127:10 lees ons egter hierdie bemoediging: ”Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.” In Jesaja 49:15-16 praat God self: “Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer. . .” Ook in Psalm 34:19 lees ons: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.”

My gebed is dat daardie seun in Thailand sal grootword met die besef dat God hom aanvaar en onvoorwaardelik lief het. My wens is dat hy sy identiteit in Hom sal vind. My wens is dieselfde vir ons elkeen. Mag ons onthou, dat wanneer ons in ons eiewaarde begin twyfel, dat Hy ons lief het en aanvaar soos ons is omdat ons aan Hom behoort. In sy oë is ons perfek. Mag ons ook na Hom draai om ons seer te genees. Hy kan dit doen. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my aanvaar soos wat ek is en dat U nooit van my vergeet nie. Help my asseblief om my identiteit opnuut in U te vind. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

• Sien foto’s van die baba wat gered is by www.benescke.co.za of op die Stories van Hoop Facebookbladsy.

• TerugvoerDeel gerus jou getuienis of terugvoer rondom die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.