Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Paar weke gelede het ek iets hartroerend beleef. Dit was rondom 18:00 die Saterdagaand. Ek het vinnig by die petrolstasie gestop om petrol in te gooi. Die blymoedigheid van die petroljoggie, Lee-Ann het my dadelik opgeval. In ons gesprek het ek besef dat sy reeds ’n werkskof van 12 ure agter die rug gehad het met 4 ure om te gaan. 16 ure op een dag! Op die vraag of sy dan nie moeg raak nie, het sy geantwoord dat sy dankbaar is vir haar werk. Sodra sy mismoedig raak, praat sy hard met haarself om positief te bly omdat sy ten minste nou geld gehad het om kos vir haar kinders te koop. Sy was ook pas terug van kraamverlof.

As ma het die storie my hart geruk. Ek kon nie ophou dink aan Lee-Ann nadat ek daar gery het nie. Iets moes gedoen word om hierdie ma te help. Ek het met ’n paar mense gepraat en ’n paar dae later was ek, namens Radio Tygerberg 104FM, saam met Warren Manuel, bestuurder van Dis-Chem Willowbridge, wat namens die Dis-Chem Stigting aan boord gekom het en Charlene Mekel, van Spar Wes-Kaap se Gemeenskapprojekte, op pad na die petrolstasie om vir Leë-Ann met goeie nuus te gaan verras.

Spar Wes-Kaap het besluit om Leë-Ann met geskenkbewyse van R6 000 te verras en die Dis-Chem Stigting het vir Lee-Ann geskenkbewyse ter waarde van R12 000 gegee! Wat die storie indrukwekkend maak, is dat sy na afloop van die aankondiging van die goeie nuus (wat almal in trane gehad het – kyk skakel na video onderaan), vertel het dat sy daardie oggend niks in die huis gehad het om te eet nie. Daar was ook net twee doeke vir die baba oor. Met die laaste geld in haar besit, het sy werk toe vertrek. “Al wat ek kon doen, was om op God te vertrou,” vertel Lee-Ann, wat in daardie stadium al dae lank in die nag opgestaan het om te bid dat God haar situasie verander. “Ek het God vir ’n deurbraak vertrou, maar Hy het gekom en my totaal uitgeboul. Ek is oneindig dankbaar.”

In 2 Kronieke 16:9 lees ons: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.”  Ook in Mattheus 6:18 staan geskryf: “Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” En in Job 34:21 lees ons: “God sien alles wat 'n mens doen, Hy sien elke tree wat 'n mens gee.”

Het God die aande gesien waar Lee-Ann tot 22:00 gewerk het, net om weer 03:00 op te staan om Hom te loof en te prys? Verseker. Ek was bloot ’n instrument in sy hand om sy goedheid aan ’n vrou met ’n hart vol geloof in Hom te demonstreer. God kan dieselfde vir ons elkeen doen. Kom ons wees sensitief wanneer Hy ons lei om iemand in nood te help. En kom ons kies om soos Lee-Ann aan te hou om Hom in die moeilike tye in ons lewens te prys – nie vir wat Hy vir ons kan gee nie, maar vir wie Hy is. Hy kyk vandag ook oor die hele aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U van my weet en dat U vir my ’n deurbraak in my situasie kan bring. Help my om op U te bly vertrou. En help my ook om my oë oop te hou waarin ek vir U ’n instrument kan wees om U liefde aan iemand in nood te demonstreer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto en video van die aankondiging by die petrolstasie by www.benescke.co.za of op die Stories van Hoop Facebook bladsy.
  • Terugvoer: Deel gerus jou getuienis of terugvoer rondom die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.