Deur Benescke Janse van Rensburg

Dit was ’n moeilike tyd vir die inwoners van Samaria. Niemand kon in of uit die stad beweeg nie omdat die Siriese weermag die stad omsingel het – gereed om aan te val en die stad in te neem. Binne die stad het die kos begin klaar raak. Mense het hul kosbaarste besittings begin verkoop om aan die lewe te bly.

Selfs die koning was desperaat. Hy het by Elisa, die profeet van God, se huis ingebars met die woorde: “Dit is alles God se skuld! Hoekom help Hy ons nie?” Elisa het geantwoord: “Daar sal môre kos in Samaria wees.” Die offisier langs die koning het dadelik gesê dat dit belaglik is. Dit het totaal onmoontlik geklink. Elisa het egter kalm gebly toe hy antwoord: “Of dit nou is of nie – dit gáán gebeur, maar jy gaan nie lewe om dit te sien nie!”

Buite die stadshekke het vier melaatse mans gesit. Vir hulle was hierdie hongersnood selfs nog erger. In totale desperaatheid het hulle na die Siriese kamp gestap om vir kos te bedel omdat hul geargumenteer het dat hulle in elk geval sou sterf deur net daar by die hekke te wag. Geskok het hulle ontdek dat daar by dié kamp niemand is nie. Daar was net vasgemaakte perde en donkies, en die tente is net daar gelos. Hulle het dadelik begin eet en drink totdat hul versadig was. Hierna het hulle die nuus ook met die stadsmense gaan deel.  

Met die aanhoor van die nuus het die koning dadelik verkenners uitgestuur om te gaan verseker dat dit nie net ’n strategie van die Siriërs is om die inwoners van Samaria uit die stad te kry nie. Die verkenners het ontdek dat God die Siriërs in die nag laat oorlogswaens en perde hoor het. Hulle was oortuig dat dit ’n ander groot weermag was wat hulle aanval. In hul skok het hulle alles net so gelos en gevlug. Die stadsmense was verheug en ’n stormloop uit die stad het begin om kos in die hande te kry. Die ongelowige offisier van die koning is in die stormloop by die stadspoorte deur die mense omgestamp en doodgetrap. Hy het nooit die kos geproe nie – net soos Elisa voorspel het.

Watter area in jou lewe voel so droog en hulpeloos soos die Samaria-inwoners se situasie? Wat voel onmoontlik om te herstel of te verander? Jou huwelik? Jou finansies? Om ’n huweliksmaat te vind? Om swanger te word? Dat ’n geliefde (vir wie jy al lank bid) tot bekering kan kom? Totale genesing van jou siekte? Om jou eie huis of besigheid te besit?

Dit is in die desperate, onmoontlike situasies dat ons God se bonatuurlike krag die beste beleef. Hy kan in ’n dag ’n onmoontlike situasie moontlik maak. In Matteus 19:26 herinner Jesus ons immers: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

God is Almagtig. Die vraag is: Gaan ons staan op sy beloftes en ons oë op Hom hou of gaan ons soos die ongelowige offisier uitmis wanneer daardie belofte ’n werklikheid word? Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U almagtig is. Help my asseblief om my oë op U te hou en nie toe te laat dat twyfel my geleentheid om ’n deurbraak te beleef misloop nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.