Deur Benescke Janse van Rensburg

Vandag se dagstukkie is kort. My hoop is dat dit jou aan die dink sal sit. Skryf gerus neer wat dit vir jou beteken.

Onlangs blaai ek deur ’n groot boek met illustrasies van God se goedheid en liefde. Op een van die dubbelblaaie was daar hierdie treffende vraag:

“Die vermoorde. Die moordenaar. Vir wie is God die liefste?

Ons is maklik om te oordeel en selfs te veroordeel totdat ons die een is wat God se genade in ons lewens benodig. In Johannes 3:16 lees ons: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” In Romeine 5:8 word ons herinner hoe groot hierdie opoffering was: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” En in Romeine 8:38-39 staan geskryf: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

God is Liefde. Hy het sy enigste Seun vir ons gegee sodat ons nie verlore hoef te gaan nie, maar die ewige lewe kan beërwe. Wat my keer op keer tref is dat Hy bereid was om dit vir ons te doen terwyl ons steeds verlore en vol sonde was. Mag ons streef daarna om elke dag só te leef dat Hy kan sien hoe dankbaar ons vir hierdie geskenk is! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U bereid was om U enigste Seun vir ons te gee sodat ons nie verlore hoef te gaan nie, maar die ewige lewe kan beërwe. Help my asseblief om hierdie liefde van U opnuut in my lewe te ontdek en te ervaar. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Deel gerus jou getuienis of terugvoer rondom die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.