Deur Benescke Janse van Rensburg

Gedurende die 1970’s het ’n kaartjieverkoper by die Shinjuku Gyoen-tuine in Tokyo, Japan, die besienswaardigheid oor ’n tydperk van 2 jaar sowat R3,2 miljoen gekos. Hoekom? Nadat ’n oorsese toeris op die kaartjieverkoper geskree het, was hy te bang om aan hulle toegangsgeld te vra.

’n Slegte ervaring, ’n mislukking of ’n teleurstelling uit die verlede vul ons maklik met vrees. Hierdie vrees beroof ons van selfvertroue en maak ons passief. Ons begin byvoorbeeld nie ’n besigheid of doen aansoek om ’n ander werksgeleentheid of gee ’n nuwe verhouding ’n kans omdat ons eenmaal misluk het of eenmaal seergekry het. Hierdie vrees hou ons in ’n gemaksone. Wat ons egter nie dadelik besef nie is dat dit ons ook beroof van geleenthede om God se goedheid, krag en guns in ons lewens te beleef.

In 2 Timoteus 1:7 lees ons: . . . God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” Ook in Spreuke 3:23-26 staan geskryf: “Jy sal jou pad veilig loop en jou voet nie stamp nie; jy sal nie bang hoef te wees as jy gaan slaap nie; as jy gaan lê, sal jy rustig slaap. Moenie bang wes dat ’n ramp jou skielik sal oorval nie, want die Here sal jou beskerm, Hy sal sorg dat jy nie in ’n strik belang nie.”

God is ons Beskermer. Mag ons Hom vertrou om ons vrees weg te neem en ons te vul met ’n Gees van krag, liefde en selfbeheersing. Kom ons waag dit om die boot te klim en op die water te stap na Hom toe. Sy oë is op ons en sy hand gereed om ons te vang wanneer ons struikel. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my van vrees vrymaak. Ek wil U vra om my te help met (noem area). Lei my deur u Heilige Gees om vreesloos te leef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Deel gerus jou getuienis of terugvoer rondom die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.