Deur Benescke Janse van Rensburg

In Tennessee, Amerika word Callie Terrell hierdie maand 100 jaar oud. Wat haar storie merkwaardig maak, is dat sy steeds voltyds as haarkapper by ’n salon werk. Alhoewel sy van plan was om te werk tot sy 102 jaar oud is, het sy besluit om tog maar af te tree – bloot omdat die salon verkoop is.

As jongmens het ons gewoonlik baie drome, maar soos ons ouer word, is ons geneig om beperkings op hierdie drome te plaas omdat ons onsself wysmaak dat ons “te oud” is daarvoor. By God is daar egter nie iets soos ’n vervaldatum nie.

Dink vir ’n oomblik aan jou eie lewe? Vir watter drome voel jy “te oud”? Om ’n sangloopbaan te beleef? Susan Boyle van Brittanje was 48 jaar oud toe sy tydens ’n talentkompetisie as sangeres ontdek is. Voel jy te oud om die man of vrou van jou drome te ontmoet en huweliksgeluk te smaak? In Amerika is Gertrude Mokotoff, op ouderdom 98 met haar 94-jarige man getroud. Voel jy te oud dat jou begeerte om ’n ouer te word waar kan word? Abraham was 100 jaar oud toe Isak gebore is. Of voel jy dalk te oud dat God jou as instrument kan gebruik? Moses was 80 jaar oud toe hy geroep is om die Israeliete uit Egipte te gaan bevry.

God werk buite tyd en ruimte soos ons dit ken. In 2 Petrus 3:8 lees ons: Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.” Ook in Jeremia 32:27 vra God self: Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?” En in Lukas 19 vertel Jesus die gelykenis waarin al die werkers goue muntstukke gekry het – net soos ons gawes en talente ontvang het. Dit was God se geskenk aan ons. Wat ons daarmee doen, is ons geskenk terug aan Hom.

Mag ons onthou dat daar geen beperkings by God is oor wat Hy in en deur ons kan doen nie. Kom ons kies vandag om soos Callie Terrell van Tennessee voluit te leef. En kom ons vra God om ons te help om die goue muntstukke wat Hy aan ons gegee het weer blink te vryf en meer te maak sodat Hy ook eendag vir ons kan sê: “Mooi so my getroue dienskneg!” Sterkte.

Vader God, baie dankie vir al die talente en gawes wat U aan my gegee het. Help my om asseblief nie langer verskonings te soek of agter my ouderdom weg te kruip, maar om U te vertrou omdat daar by U geen beperkings is nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Vir meer: Sien foto van Callie Terrell (die 100-jarige haarkapper), Susan Boyle (48 jarige sanger) en Gertrude Mokotoff (98 jarige bruid) by www.benescke.coza of op die Stories van Hoop Facebook bladsy.
  • Terugvoer: Deel gerus jou getuienis of terugvoer rondom die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.