Benescke Janse van Rensburg

Wat is die uitdaging wat jy vandag in die gesig staar? Benodig jy ’n strategie omdat jy glad nie weet watter kant toe nie. Hierdie storie mag jou dalk bemoedig . . .

Sowat 400 jaar nadat die Israeliete die beloofde land, Kanaän betree het, was Jerusalem, die stad in die middel van die land, steeds in die hande van ’n Kanaänitiese volk, die Jebusiete. Dawid wou dit verander. In 2 Samuel 5 lees ons dat een van die eerste dinge wat hy gedoen het nadat hy as koning ingeseën is, was om sy manskappe gereed te kry en teen Jerusalem op te trek. Hy wou die stad verower en dit die hoofstad van Israel maak.

Daar was egter net een probleem: Dit was skynbaar onmoontlik om die stad Jerusalem te betree. Aan drie kante van die stad was berge wat dit beskerm het en aan die vierde kant groot stadshekke. Die Jebusiete het Dawid gespot en getreiter en gesê dat hy en sy manne nooit binne binne die stad sou kon kom nie. Dit het Dawid kwaad gemaak en meer oorgehaal om Jerusalem te verower.

God was by Dawid en Hy het hulle gelei om ’n alternatiewe roete te vind tot binne die stad: Watertonnels. Hierdie tonnels het op die berg tot by by die stad geloop. Terwyl die Jebusiete rustig geslaap het, het Dawid se manskappe in die tonnel opgestap tot in die middel van Jerusalem en die stadshekke van die binnekant af oopgesluit. Só is dié sterk stad ingeneem en verower.

Waarvoor benodig jy vandag wysheid in jou lewe? In Jakobus 1:5 lees ons: As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Ook in Spreuke 3:5-6 staan geskryf: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” (1953-hersiening) En in Jesaja 30:21 vind ons die gerusstellende belofte van God: “. . . jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.”

God is die Bron van ons Wysheid. Waar ons geneig is om in krisistye in die probleem (en die beperkings daarrondom), vas te kyk, kan God ons met ’n strategie kom verras waaraan ons nooit gedink het nie. Kom ons raak rustig en spits ons ore om te hoor wat die “watertonnel-strategie” in ons lewens of situasie is wat Hy ons van wil vertel. Sterkte!

Vader God, baie dankie dat U in staat is om my te lei in elke situasie waarin ek myself mag bevind. Behoed my en bewaar my en gee my asseblief ’n strategie om (noem jou uitdaging) vandag beter te hanteer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: As jy wil saamgesels, stuur ’n e-pos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.