Benescke Janse van Rensburg

’n Paar weke gelede was dit ’n perfekte Lentedag in die Kaap – byna geen wind en nie te warm nie. Om die goeie weer te vier, het ek my kinders geneem om te gaan aarbeie pluk op ’n nabygeleë aarbeiplaas. Dit was ’n wonderlike dag gevul met pret en plesier. Op pad terug huis toe, het ek by ons gunsteling slaghuis gestop. Dit is ’n familiebesigheid met die vriendelikste mense.

Terwyl die pa en sy twee seuns gewoonlik elke dag by die slaghuis is, was hul daardie dag opmerklik afwesig. Ook die vrou agter die toonbank het hartseer gelyk. Op die vraag waar hulle was, het die vrou my in trane vertel dat die seuns se ma reeds vir ’n geruime tyd lank siek is met kanker. Vir my was dit ’n skok. Ek besoek die slaghuis weekliks en nooit het hulle met hul optrede laat deurskemer dat hulle deur seker die moeilikste storm van hul lewens gaan nie. Die ma se situasie het aansienlik verswak en vroeër daardie dag het die pa sy seuns van die hospitaal af gebel om dadelik soontoe te kom. Hulle ma was op haar laaste. Sy het daardie aand gesterf. . .

Die kontras van hierdie dag het my diep getref. Vir my was dit ’n dag wat ek weer en weer wou herleef. Vir hulle was dit een wat hul so gou moontlik wil vergeet.

Hierdie gebeurtenis het my laat dink. Daagliks is daar mense wat rondom ons ’n geweldige stryd stry. Soms is ons bewus daarvan, ander kere is dit net hul sekondêre reaksies wat ons bewus maak van die pyn wat hul ervaar. Byvoorbeeld, jou ongeduldige, onredelike bestuurder of kollega is dalk besig om ’n stryd te stry met sy of haar eensaamheid of depressie; ’n ongeduldige motoris in die verkeer lê dalk op sy toeter omdat hy nie weet hoe om die pyn en skok van sy vrou se miskraam te hanteer nie; ’n kassier mag dalk aanhoudend foute maak omdat sy nie kan ophou dink aan haar siek kind wat sy by die huis moes los nie. Mense met seer, maar soms seer bloot omdat hulle nie weet hoe om anders uiting te gee aan hul oorweldigende seer nie.

In Psalm 34:19 lees ons: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.” En in Hebreërs 13:16 lees ons: “Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.”

God is naby aan ons in gebroke, moedelose situasies – en Hy wil hê dat ons as gelowiges ook sy liefde en genade aan gebrokenes moet bewys in hulle seisoene van seer. Mag ons, in stede daarvan om aanstoot te neem, verwerp te voel of mense kwaai aan te spreek as ons nie hul optrede verstaan nie, ’n slag dieper kyk, empatie ontwikkel en genade bewys. Só plaas ons dalk ’n pleister op ’n seer hart wat op geen ander manier sou genees nie. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U genadig is teenoor my as ek deur ’n moeilike tyd gaan. Help my asseblief om ook genadig teenoor ander mense te wees rondom my. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

  • Terugvoer: As jy wil saamgesels, stuur ’n e-pos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.