Deur Benescke Janse van Rensburg

Met mae wat op ’n knop trek, het ma en dogter mekaar daardie Vrydagoggend gespanne in die skool se ontvangslokaal ontmoet. Beide was onseker oor wat vir hulle voorgelê het. Die skoolhoof het die ma na die skool ontbied en sy sekretaresse het die matrikulant, Simoné oor die interkom afgeroep na die hoof se kantoor. Beide ma en dogter het geweet dat hierdie aksies een ding beteken: die skolier was in die moeilikheid. Maar waaroor? Wat hulle nie geweet het nie, was dat hulle op die punt was om nuus te kry wat hul situasie aansienlik sou verander. . .

Jaarliks het Radio Tygerberg 104FM, ’n gemeenskapradiostasie in die Kaapse Skiereiland, ’n Matriekafskeidprojek. Met die projek kan luisteraars behoeftige matrieks nomineer wat hulle dink waardig is om die matriekafskeid van hul drome te ontvang. Ons bid daaroor en uit die hordes aansoeke word vyf matrikulante gekies wat alles vir hul droomaand ontvang – die gebruik van ’n ontwerpersrok, grimering en hare wat deur ’n professionele persoon gedoen word en die matriek word selfs met ’n luukse motor na die matriekafskeid vervoer.

Met die aankondiging dat Simoné een van die matrieks is wat as wenner gekies is vir hierdie projek, was sy en haar ma in trane. Inteendeel, haar ma het so hard gesnik, dat sy skaars ’n woord kon uitkry. Wat ons nie geweet het nie, was dat die ma reeds vir twee maande werkloos was nadat die fabriek waarvoor sy gewerk het toegemaak het. As enkelmamma sonder ’n inkomste het haar eie droom om vir haar dogter die matriekafskeid van haar drome te gee, al meer na ’n onmoontlike saak begin lyk. Sy het egter nie die hart gehad om vir haar kind te sê dat sy nie die dans sou kon bywoon nie. Al wat sy kon doen, was om met God oor hierdie saak te praat en haar hart voor Hom uit te stort. Hy het gehoor en genade aan haar bewys (kyk na die video waartydens ons hul verras het by die skakel onderaan).

In Hebreërs 13:5 herinner God ons: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Ook in Psalm 37:5 lees ons: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.” En in Jesaja 43:19 praat God weer: “Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”

Watter area in jou lewe voel vandag vir jou soos ’n woestyn – dreigend om jou te oorweldig? ’n Finansiële krisis? ’n Huwelik op die rand van egskeiding? Skokkende nuus oor jou gesondheid? ’n Uitdaging met ’n kind van jou? Voel jy soos Simoné se ma magteloos om jou kind se droom te verwesenlik?

Kom ons onthou dat God ons nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie. Hy wil hê ons moet ons lewens aan Hom oorlaat en op Hom vertrou. Só kan Hy ons verras met ’n pad deur die woestyn en selfs ’n rivier wat in die dorste areas in ons lewens ontspring. Hy het dit vir Simoné en haar ma gedoen. Hy kan dit ook vir jou doen! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek (noem die area in jou lewe wat jou bekommerd laat) na U kan bring. Help my asseblief om nie vreesagtig te raak nie, maar om my vrede in U te vind. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Vir meer: Sien foto’s en video van die verrassing van die matriek op die Facebook bladsy, Stories van Hoop of by www.benescke.co.za.
  • Terugvoer: As jy wil saamgesels, stuur ’n e-pos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is belangrik.