Maand tema: Kom ons onthou. . .

Deur Benescke Janse van Rensburg

Die goue kalf het my gisteraand geskok. Dramaties groot geteken aan die voet van die Sinaiberg met die Israeliete wat rondom dans. Net eergisteraand het ek vir my 3-en 5-jarige gelees hoe God vir die Israeliete ’n pad deur die Rooi See gemaak het. Ook hoe Hy vir die Israeliete manna en kwartels gegee het om te oorleef voordat Hy met weerligstrale en blitse uit die Sinaiberg met hulle gepraat het. Dit is amper ondenkbaar dat dieselfde mense wat hierdie wonderwerke, voorsiening en God se krag beleef het ’n goue kalf kon bou en aanbid – dít nogal aan die voet van die berg waar hulle God dae vantevore ontmoet het.

Ek wonder of ons nie soms presies dieselfde doen nie. Ons beleef ’n bonatuurlike wonderwerk en ons vertel almal daarvan. Dan, ’n paar maande later, beleef ons weer ’n krisis. Dié keer is dit iets erger en dit voel asof God stil is. Ons bid. Tyd gaan verby. En dan, net soos die Israeliete, begin soek ons na maniere om die stilte te hanteer en die situasie self uit te sorteer. Ons draai na ons vriendin se skouer of ’n psigiater se medikasie. Is dit verkeerd om hulp te soek? Nee. Dit is wel wanneer ons daarin begin vertrou eerder as om ons oë op God te hou. So bou ons ’n goue kalf in ons eie lewens – en God haat dit.

In Markus 12:30 praat Jesus oor die belangrikste gebod: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.” In Matteus 15:8 word ons herinner dat God nie net na ons woorde luister nie, maar na ons harte ken: “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af.” En in Openbaring 2:4 lees ons: “Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.”

Wie is hierdie God vir jou? Mag ons onthou dat Hy eerste in ons lewens wil wees. Hy wil hê ons moet na Hom kyk vir ’n deurbraak en na sy stem smag. Hy wil op ons harte se troon sit – en nie met goue kalwers in ons lewens kompeteer nie.

Vir November-maand wil ek fokus op wie hierdie God is wat ons aanbid en wie Hy vir ons elkeen wil wees. Gesels gerus saam op die Facebook bladsy, Stories van Hoop of e-pos my na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jou bydrae is belangrik. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek met U kan gesels en kan weet dat U regeer. Wys my asseblief deur u Heilige Gees as daar enige goue kalwe in my lewe is wat ek moet vernietig sodat ek kan sê: Ek het U lief met my hele hart en siel en verstand. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Terugvoer: As jy wil saamgesels, stuur ’n e-pos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is belangrik.