Xanthe Hancox

Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge 'n groot menigte engele gesien. Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor uitroep: “  om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.” Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.”  Openbaring 5:11-13

In Openbaring 5 gee Johannes aan ons 'n pragtige visie van Jesus op die troon. Aan die een kant word Jesus as 'n Leeu beskryf. Hy is kragtig en in staat om die boek met God se verlossingsplan oop te maak. Aan die ander kant word Hy as 'n Lam wat geslag was, beskryf. Nederig en sag, en wat Homself gewillig aan die dood oorgegee het.

Johannes nooi ons uit om saam met die groot menigte engele en ander wesens te sing dat die Here, die Leeu en die Lam, waardig is.

God is al ons lof en eer waardig want Hy is die Skepper en die Verlosser. Elke asemteug wat ons gee is te danke aan die Een wat ons gemaak het, en ons het 'n nuwe lewe wat gekoop is deur die bloed van Christus, die Een wat vir ons geoffer is. Hy is waardig want Hy het aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan sodat ons die nuwe lewe kan ontvang om saam met Hom te dien en regeer. Hy is die Een wat nou regeer. Alle mag in die hemel en die aarde behoort aan Hom, en sy koninkryk sal nooit vergaan nie.

Waar jy jou ook al op hierdie Woensdag bevind, verheerlik Jesus vir die gawe van verlossing. Saam met ander Christene en die engele in die hemel roep ons uit: "Die Lam wat geslag was, is waardig!"

Gebed: Ons aanbid U, Here, ons Skepper, Verlosser en Koning. Ons wil U opnuut dank vir die wonderlike gawe van verlossing. Gee dat ons dit nooit sommer as vanselfsprekend sal aanvaar of gering sal ag nie. Aan U al die eer en die lof! Amen