Xanthe Hancox

God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.” Genesis 22:2

Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!  Johannes 1:29

Dit is net reg dat ons hierdie maand, waar ons oor diere in die Bybel gesels, afsluit deur na die kragtigste diere metafoor in God se Woord te verwys – Jesus as die Lam van God. Die verhaal van Abraham en Isak is heel waarskynlik een van die Bybelstories wat ons almal goed ken, en daar is goeie rede daarvoor: dit bevat die kern van die evangelie.

In die Ou Testament is daar 'n lam geoffer om vir die sonde van die mense te betaal sodat hulle hulle met God kon versoen. Jesus het die één offer geword, wat ons vir altyd volkome van sonde vry gemaak het.  (Hebreërs 10:1-18)

In die verhaal van Abraham en Isak sien ons 'n vooruitskouing van Jesus. (Lees die volledige verhaal in Genesis 22:1-14). Op bevel van God neem Abraham sy seun na Moria, met die doel om hom daar te offer. Toe die seun vra waar die offerlam is, het Abraham geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.” Abraham was bereid om sy kind aan God te offer, maar God het hom gekeer en self 'n ram voorsien om geoffer te word. Die groter prentjie is dat God het die Lam vir ons voorsien – sy eie Seun. Slegs hierdie offer van God is werklik genoeg om ons met Hom te versoen.

Dit is deur sy offer dat ons verhouding met God herstel is en deur sy bloed word ons 'n geestelike dood gespaar en sal ons die ewige lewe ontvang.

Gebed: Vader, gee dat ons nooit sal vergeet wat u liefde vir ons U gekos het nie. Ons loof U dat U nie u Seun gespaar het nie, maar Hom vir ons geoffer het. Ons loof en dank U want in Christus, die Lam, is ons skuld betaal en is ons van sonde bevry. Amen