Xanthe Hancox

Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg. Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste. Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is.  Jesaja 11:6-9

Ek is tans met kraamverlof en ek moet bely daar was al dae wat ek my in YouTube begrawe het, en die een oulike video oor diere na die ander gekyk het. Die een waar diere van verskillende spesies maats is, is my gunsteling. (As jy toegang tot YouTube het en tien minute om te spaar in jou etenstyd, kyk gerus hierna. Dit sal jou laat glimlag).

Hierdie ongewone vriendskappe is in sterk kontras met ons mense se onvermoë om mekaar altyd vriendelik te behandel. Dit lyk tans of nasies en mense meer verdeeld is as ooit tevore, en die idee van 'n harmonieuse samelewing lyk meer onwerklik as luiperds en bokkies wat in vrede saamwoon. Dit maak nie saak hoe hard politici, niewinsgewende organsisasies of individue probeer nie, ons as mense kom net nie heeltemal oor die weg nie.

Die rede is eenvoudig: in ons menslike pogings om hierdie 'n nuwe wêreld te maak, word die gebrokenheid van die menslike spesie nie in ag geneem nie. Sonde veroorsaak nie net 'n verwydering tussen die mens en God nie, maar ook tussen mense (en ja, inderdaad ook diere).

Jesaja praat in kragtige poëtiese taal oor Jesus in terme waarop ons amper nie durf hoop nie. Christus sal 'n nuwe samelewing tot stand bring waar groot vyande in vrede bymekaar sal kom.

God se genade werk wonderlik om sondaars van alle soorte te verander en bring hulle saam in 'n gemeenskap van gelowiges. En deur die verspreiding van sy Woord begin die vervulling van sy beloftes. Die aarde word vol van die kennis van God en eendag sal sal sy koninkryk volmaak wees. In hierdie nuwe wêreldorde sal vrede aan die orde van die dag wees.

Gebed: Hemelse Vader, help ons om grense af te breek en om in vriendskap na ander uit te reik. Help ons om wanneer ons dit doen draers van die evangelie van vrede te wees. Amen