Xanthe Hancox

“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie. Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in. Matteus 23:23-24

Jesus het skerp woorde gehad vir die godsdienstige leiers van sy tyd. Hy sê dat hulle so op die detail van hulle godsdiens fokus, die muggies, dat hulle God se groter prentjie, die kameel, volkome mis. Hulle gee tiendes van selfs die speserye in die huis, maar laat na om die armes in die gemeenskap te versorg. Dit was nou nie juis verkeerd om aandag aan hierdie klein dingetjies te gee nie. Die probleem was dat hulle die belangrike sake wat vir God saak maak – geregtigheid, genade en geloof – geïgnoreer het.

Indien jy vir 'n tyd reeds 'n Christen is en by jou gemeente betrokke is, sal jy weet nie baie het die afgelope 2 000 jaar verander nie. Dit wil voorkom asof ons nog altyd die probleem het dat ons minder belangrike sake as die belangrikste ag. Dit is so maklik om die spoor byster te raak en dan so baie aandag aan hierdie goeie minder belangrike sake te gee, dat dit ten koste van die belangrike dinge is.

Jesus kritiseer nie die godsdienstige leiers van sy tyd omdat hulle deurdagte aandag aan die Here se wette gee nie. Wat Hom egter irriteer, is dat hulle so 'n obsessie het met die geringe sakies dat hulle die belangrike sake, die kernsake, heeltemal afgeskryf het. Ons moet verstaan dat dissipelskap nog altyd met karakter en omgee te make gehad het: ons moet die karakter van ons Here weerspieël en omgee vir dieselfde dinge waarvoor Hy omgee. Ongelukkig is dit so maklik om oor die muggie-aangeleenthede te verskil en dan sluk ons die kameel-aangeleenthede in. Jesus herinner ons aan dit wat die belangrikste is: geregtigheid, genade en geloof!

Gebed: Here, help my om te weet wat die belangrikste is en om dan daarop te fokus, maar sonder om die geringer sake te verwaarloos. Help my om deur u Gees te fokus op die dinge wat u karakter aan ander wys en aan U die eer sal bring. Amen