Xanthe Hancox

Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan weggegaan na die gebied van Tirus toe. Daar het Hy in 'n sekere huis tuis gegaan, en Hy wou nie hê dat iemand dit te wete moes kom nie. Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie. 'n Vrou wie se dogtertjie van 'n onrein gees besete was, het gou van Hom te hore gekom. Sy het gekom en voor sy voete neergeval. Hierdie vrou was 'n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het Hom gevra om die bose gees uit haar dogter uit te drywe. Maar Hy het vir haar gesê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.” Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.” Toe sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan; die bose gees het al klaar uit jou dogter uitgegaan.”  Markus 7:24-29

In Jesus se tyd was die stad Tirus 'n indrukwekkende plek. Dit was 'n vooruitstrewende hawestad, 'n sentrum vir kultuur en tegnologie en beroemd vir sy waardevolle pers kleurstof. Dit was ook 'n heidense stad en 'n plek wat goeie Jode eerder vermy het.

In hierdie vreemde gesprek met die vrou sê Jesus dat Hy eerstens gekom het om sy eie mense te dien, en nie haar mense nie. Dit was gebruiklik vir Jode om na heidene as "honde" te verwys. Jesus het nie gedink hierdie beskrywing is reg nie; Hy wou net uitvind of die vrou bereid was om so 'n lae posisie te aanvaar sodat sy genees kon word.

Hierdie vrou was nie bereid om nee as 'n antwoord te vat nie. Sy was bereid om enige "oorskiet" wat Hy haar aanbied, te aanvaar – met ander woorde enige aandag wat Jesus bereid was om aan haar en haar dogter te gee.

As Jesus net eenvoudig haar dogter gesond gemaak het, sou sy Hom slegs as 'n wondergeneser gesien het. Maar deur hierdie ontmoeting, ervaar sy Jesus as die Messias, die God van Israel.

Ons kan baie by hierdie Siro-Fenisiese vrou leer. Sy was nederig, sy het aanhoudend haar behoeftes na Jesus gebring, en sy het geglo dat Jesus oor genoeg krag en welwillendheid beskik, om in haar behoeftes te voorsien.

Gebed: Here, dankie dat U my sien vir wat ek is en dat U my aanvaar vir wat ek is. Help my asseblief om in nederige geloof tot U te nader sodat ek elke dag U genade kan ontvang. Amen